Dit lyk of die strydbyl tussen Hermanus Country Market en die Overstrand-munisipaliteit begrawe is.
Ná die derde terugvoeringsvergadering tussen die bestuur van die Country Market en die munisipaliteit, wat op 2 Augustus gehou is, het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill gesê hy waardeer die werk wat die Hermanus-sportklub en die Country Market al gedoen het en is positief oor die pad vorentoe.
Die Hermanus Country Market se versoek vir die uitstel van die voorgestelde planne tot 21 Augustus is ook deur die munisipaliteit aanvaar.
Die Hermanus Country Market het ook ingestem om na die perseel te skuif soos wat dit op die oorspronklike terreinontwikkelingsplan goedgekeur is. Hulle het ook ’n Wrap-groep aangestel om die beplanning te behartig en regsverteenwoordigers het reeds met die onderhandelinge begin.
Danksy die goeie gesindheid wat tans tussen die Country Market en die munisipaliteit heers, het O’Neill bevestig die goedkeuring van die mark – wat vir einde Augustus beplan is – sal hersien word.
Die munisipale bestuurder het bevestig die aanvanklike goedkeuring vir die mark om te verhandel tot einde Augustus sal gegewe die samewerkende gees van onderhandelinge hersien word.
Aansoek vir die tent en die maandelikse Arts in the Park, wat die eerste Sondag van elke maand sal plaasvind, word ook tans oorweeg.




