Die direkteure van Die Straat se Kind in Grabouw, Chenelle en Junon Franke.


Vra enige kenner en hulle sal sê ouers speel die belangrike rol in kinders se opvoeding en toekoms, maar meer ouers as ooit is deesdae afwesig. Dit is waarom organisasies daarop fokus om ouers by hul kinders se opvoeding betrokke te kry. Een so organisasie is “Die Straat se Kind”, ’n liefdadigheidsorganisasie in Grabouw, wat uit sy pad gaan om kinders in dié plaasdorp op te hef.

Chenelle Franke, ’n kinder- en jeugwerker en direkteur van Die Straat se Kind, en wat ook by Groenberg Sekondêr werk doen, het onlangs ’n ouerskap-werksessie in Grabouw aangebied.

“Die werksessie het gegaan oor die belangrikheid van ouerskap en die sprekers was Junon Franke, kolonel Desiree Jansen, sersant Mariska Newman, pastoor Trevor Titus en Bonita Gidlan. Ons kon nie die dag aanbied sonder ons borge en rolspelers soos die Village Square Supermark; Sias van Tonder; John Michels, die onder­burge­meester van die Theewaterskloof-munisipaliteit; Geraldine Franse en Elgin Valley nie.

“Ons het hierdie werksessie gehou om nie net ouers touwys te maak nie, maar ook om hulle in te lig waardeur kinders gaan en hulle raad te gee oor hoe om hul kinders by te staan. Ons moet ons toekomstige leiers ondersteun, want ons het al te veel kinders aan depressie verloor,” het Franke gesê.

Volgens haar wil Die Straat se Kind nie net met die kinders op straat werk nie, maar ook help om sterk familiebande te bou. “Ek doen ’n beroep op sakeondernemings en ander organisasies om te help om die kinders van Grabouw op te hef.”

Bel Franke by 073 810 1881 vir nog inligting oor die projek, of om hulle te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article