Lede van die Walking and Talking-stapgroep in die Caledon-veldblommetuin. Regs voor is Lizël Kimber en Charl Folscher van Beyond Black Mountain. Die hond Troubles, wat naby die veldblommetuin woon, vergesel stappers gereeld op hul staptogte.Foto: Mitzi Buys


Walking and Talking is ’n stapgroep van Tesselaarsdal wat gereeld interessante staptogte vir hul lede reël.

Hulle het juis Dinsdag 9 Mei die Caledon-veldblommetuin besoek.

’n Lid van dié groep, Hannelie Hanekom, sê: “Enigeen van ons groep kan ’n stap reël en vra wie wil saamkom. Ons stap in die berge, die Haarkapperroetes, deur die lande van boere – net waar ons kan.”

Op ’n vraag hoekom hulle juis die Caledon-veldblommetuin besoek het, sê Hanekom:” Sommige van ons was nog nooit hier nie, maar ons het besluit om Beyond Black Mountain (BBM) te kom ondersteun. Ek voel hulle doen so baie harde werk vir hierdie tuin, wat met soveel liefde ontwikkel is.

“Ons het vanoggend ’n skenking gebring om hulle te help met die werk wat hulle hier verrig.”

Voordat die stappers die sirkelroete na Moos se kop aangepak het, het Lizël Kimber van BBM hulle kortliks die geskiedenis van die veldblommetuin vertel asook oor die inheemse plante ingelig, waaronder meer as 200 spesies heide tel.

Ná die staptog, wat almal baie geniet het, het hulle ’n heerlike piekniek-ete in die rondawel genuttig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article