Paradisepark-inwoners by die munisipaliteit om die uitsettingsbevel teen te staan.


Sosiale media het ná die berig oor die Paradisepark-inwoners verlede week in Hermanus Times (‘Intimidasie’, 19 Junie 2024), behoorlik gegons oor die sage wat nou al sewe jaar duur.

Gemengde gevoelens het veral opgevlam rakende die probleem wat hoofsaaklik bejaardes wat al jare in die “park” woon, raak.

Van die inwoners voel dit is onmenslik om die mense op straat te sit, terwyl ander weer voel die inwoners is sewe jaar tyd gegun om ’n ander heenkome te soek, terwyl ander behuising ook aan hulle aangebied is, maar wat die meeste van die hand gewys het.

“My hart is vandag stukkend. Ek is verslae; ons het tot gister (24 Junie) [tyd] om ons eiendomme te verlaat,” het Tracey Henn, ’n inwoner en gemeenskapsaktivis, gesê. Die bevel het van die konstitusionele hof gekom nadat nie net al die omstandighede in ag geneem is nie, maar ook ná ’n sewe jaar lange hofgeding tussen inwoners en die ontwikkelaar, Magna Business Services.

Volgens Henn het die bevel nie redes verskaf oor waarom die inwoners se appèlaansoek misluk het nie. “Ons het nie net die grond gevat nie – ons het hier kom koop en baie van die mense wat hier woon, het hul spaargeld gebruik om hier te wees,” het sy gesê.

Dit is veral mense wat op hul Sassa-toelae staatmaak, wat haar die meeste bekommer.

Van die Facebook-gebruikers is van mening dat die inwoners sewe jaar gehad het om nuwe behuising te kry asook die tydelike behuising wat die Overstrand-munisipaliteit aan hulle gebied het, van die hand gewys het, en hulle deur politici se valse hoop gelei is. Volgens ’n bron wat anoniem wil bly, kon die jare lange hofgeding nie net geld nie, maar ook baie mense se hartseer gespaar het. “Baie gerugte doen die ronde hieroor en veral die feit dat die Rooi Miere op die perseel is en inwoners glo intimideer. Ek wil dit duidelik maak dat die Rooi Miere nie die inwoners intimideer nie en geen bewyse bestaan dat hulle skote afgevuur het nie. Ek het bewyse dat skote deur van die inwoners self afgevuur is,” het hy gesê.

Volgens hom het die hof, nadat na die belange van die ontwikkelaars en die inwoners gekyk is, bevind hulle kan met die uitsettingsbevel voortgaan.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het al op 20 April 2022 ’n geskrewe uitspraak van 45 bladsye uitgereik oor die stand van sake. Hermanus Times het op 11 Mei 2022 berig oor die hofuitspraak (“Ontwikkelaars antwoord”, 11 Mei 2022) waarin prokureurs van die ontwikkelaar dit duidelik stel die hooggeregshof het bevind Raymond Schonegevel (die vorige eienaar) het die huurooreenkomste met die inwoners regmatig gekanselleer.

“Daar was na bewering verbale ooreenkomste, sowel as sekere geskrewe drie-jaar-huurkontrakte tussen die vorige eienaar en die inwoners.

“Schonegevel is oorlede voordat hy in die hof kon verskyn, maar sy dogter het in Julie 2021 getuig geen verbale huurooreenkoms van 99 jaar met die inwoners bestaan nie.

“Die hof het dus beslis dat die inwoners Paradisepark onwettig beset weens die feit dat hulle geen wettige reg het om daar te woon nie, maar ook omdat hul strukture en verblyf daar onwettig is weens die feit dat dit indruis teen die munisipale soneringsregulasies en-wette,” het die berig gelui.

Verskeie politici het al belowe om die Paradisepark-inwoners te help. Volgens Masizole Mnqasela, president van die ACC, gaan hulle tot die laaste vir die lot van die inwoners baklei. Hy het die probleem op ’n raadsvergadering, wat op 27 Maart gehou is, met die Overstrand-munisipale raad bespreek en volgens Mnqasela het die burgemeester, dr. Annelie Rabie, haar verbind om aandag te gee aan die koop van Paradisepark aangesien munisipale gelde van sowat R12 miljoen uitstaande is. (Sien kommentaar van die Overstrand-munisipaliteit elders op die blad).

Volgens die anoniem bron het die ontwikkelaars ná die uitsettingsbevel doodsdreigemente ontvang, wat volgens hom onmenslik is. “Daar is soveel voordele wat die ontwikkeling vir die hele dorp gaan inhou. Die gaan nie net om werkskepping daar te stel nie, maar dit sal ook beteken dit gaan toerisme ’n hupstoot gee.

“Hulle is klaar besig om die vleiland te rehabiliteer,” het hy gesê..Hermanus Times verneem twee Paradisepark-inwoners is verlede week oorlede. Hannes le Roux, wat ’n jare lange inwoner was en vir die ontwikke­laars gewerk het, is ná ’n lang siekte oorlede terwyl Tannie Rina le Grange, wat ouer as 80 was, ook oorlede is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article