Die 28 uur wat die skopboksers van die Westelike Provinsie na Lephalale gereis het om aan die Suid-Afrikaanse skopbokskampioenskap deel te neem, was die moeite werd.
Altesaam 18 skopboksers van die Overbergse klub Martial Arts-akademie het aan die kampioenskap deelgeneem.
Volgens shihan Ruehan van Romburgh is dit die eerste keer in die geskiedenis van skopboks dat die kampioenskap in Limpopo plaasgevind het. “Dit was nie maklike omstandighede nie. Nie net het ons 28 uur na Limpopo gereis nie, maar die skopboksers het vir twee dae in temperature van 35 °C van 07:00 tot 23:00 geveg. Daar was 939 deelnemers van oor die land heen en die skopboksers van Martial Arts het uitsonderlik goed gevaar,” het hy gesê. “Nie net het hierdie atlete die provinsie verteenwoordig nie, maar ook Hermanus, en hulle het uitstekende uitslae behaal. Van die deelnemers is groentjies, maar hulle het gewys wat in hulle steek en uitstekende gevaar.”
Die skopboksers het 21 trofeë huis toe gebring – 11 eerste plekke, vyf tweede plekke en vyf derde plekke.
“Dit beteken 11 nasionale titels is verower, wat uit die boonste rakke is. Ons hou ook ons asem op vir die Suid-Afrikaanse span wat nou die een of ander tyd aangekondig gaan word. Hopelik word van ons klub se skopboksers gekies om teen Kanada kragte te meet. Die een toets gaan in Oudtshoorn plaasvind en die ander in Kaapstad,” het Van Romburgh afgesluit.




