Met mensehandel en veral die vrees rakende kinders aan die orde van die dag, is dit skokkend om te verneem van die skole in die Overberg is nie omhein nie en het nie eens hekke wat leerders binne die perseel hou nie.
Een so ’n skool is Kleinmond Primêr wat onlangs ’n nuwe heining gekry het, maar of dit weens vandalisme of swak vakmanskap is, was dié nuwe toevoegsel net van korte duur.
“Kleinmond Primêr het ’n nuwe heining gekry, maar as gevolg van die swak kwaliteit arbeid wat gelewer is, lê die heining nou al vir vier maande plat. Dit skep ’n onveilige leeromgewing en is teenstrydig met die onderwysdepartement se beleid ten opsigte van veiligheid van skole. Dit skep ook die geleentheid vir misdadigers om hier met hul kriminele aktiwiteite te baljaar,” het ’n ouer ontsteld laat weet.
Volgens die ouer word niks aan die probleem gedoen nie en is die departement bewus daarvan.
“ ’n Afgevaardige van die onderwysdepartement het op 19 Julie die skool besoek en ’n vergadering met die belanghebbende partye gehou, maar steeds is niks aan die saak gedoen nie. Die skool is behoorlik van bakboord na stuurboord gestuur en die departement het ook nog geen e-posse beantwoord nie,” het die ouer berig. “Terwyl die skool sonder heining sit, is dit nie net ’n gevaar vir die kinders nie, maar rondloperhonde loop ook vrylik hier rond. Ek wonder wie gaan vir al die skade betaal?”
Hermanus Times het die onderwysdepartement gekontak en volgens hulle is hulle deeglik bewus van die probleem.
“Die onderwysdepartement is tans besig om met die skool te onderhandel oor herstelwerk aan die heining. Ons ondersteun ook die skool waar ons kan en het selfs ’n veiligheidspan wat aangestel is totdat die heining herstel is,” het Kerry Mauchline, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, gesê.




