Die Suidoosterfees se Talentsoektog is nou oop vir inskrywings. Dié gewilde kompetisie, wat reeds vir agt jaar aangebied word, bied kosbare geleenthede vir talentvolle amateurs om raakgesien te word en ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedryf te kry.

Vanjaar is dit makliker as ooit om in te skryf. Mense tussen nege en 35 kan deelneem deur ’n video per WhatsApp te stuur aan 079 906 7359. In die kort video’s moet deelnemers hul besonderhede verskaf en hul spesiale talent met ’n optrede demonstreer. Kategorieë waarin deelnemers hul staal kan wys, is sang, dans, instrumentele musiek en skerpskets-komedie. Die sluitingsdatum is Vrydag 15 November om 12:00.

Groot kontant- en ander pryse is op die spel. Die algehele wenner, wat tydens die Suidoosterfees in 2025 aangekondig word, ontvang R10 000 en kry ’n uitnodiging om ’n gasverskyning in kykNET se gewilde sepie Suidooster te maak. Die mees belowende danser wat aan die kompetisie deelneem, kwalifiseer vir ’n beurs om vir ’n jaar te studeer aan die Kaapse dansskool, Dance for All. Daar is ook kontantpryse vir naaswenners.

Kompetisiereëls, asook die bepalings en voorwaardes vir deelname, word op suidoosterfees.com uiteengesit. Dit is belangrik vir voornemende deelnemers om dié riglyne op die webwerf te lees en te volg. Onder-18’s se inskrywings moet deur die toestemming van ’n ouer of voog vergesel word.

Oudisievideo’s moet organiseerders teen Maandag bereik, waarna die beoordelaars semifinaliste sal nooi om werkswinkels in Kaapstad by te woon om hul vaardighede te slyp vir die volgende kompetisierondes.

Caitlin White, ’n jong sangeres van Delft, is vroeër vanjaar as wenner van die vorige Talentsoektog aangewys. “Caitlin is ’n uitstekende jong sangeres, en ons is baie opgewonde om te sien hoe haar uitsonderlike stem in die toekoms geleenthede vir haar gaan open,” sê Jana Hattingh, Suidoosterfees se uitvoerende hoof.

“Ons nooi alle talentvolle amateurs om aan die kompetisie deel te neem, en ons mentors staan gereed om finaliste se vaardighede te ontwikkel en af te rond,” vertel Jana. Die Talentsoektog word ondersteun deur die ATKV, kykNET se Suidooster, Dance for All en die Kaapse gemeenskapspublikasies City Vision, People’s Post en TygerBurger

Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article