Toe André “Vlooi” Botha in 2010 die eerste keer visskiet probeer het, het hy so gemaklik soos ’n vis in die water daarmee gevoel.
Sedertdien het dié boorling van Hermanus sy vaardighede in dié sportsoort so verfyn en geslyp dat hy nie net al talle kompetisies gewen het nie, maar ook eersdaags aan die SA visskiet-kampioenskap in Durban gaan deelneem.
“My pa het my eerste speargun vir my gekoop. Dit was seker sy beste belegging nog, want hy is baie lief vir vis en nou eet ons elke week vars vis wat ek geskiet het,” vertel Botha. Sy pa is MC Botha, die bekende skrywer, fotograaf en oudredakteur van die Hermanus Times.
Hoewel hy aanvanklik meestal in die waters om Onrusrivier vis geskiet het, verkies Vlooi, soos hy alombekend is, die warmer waters rondom Struisbaai, waar hy op visspesies soos geelstert fokus.
“My gunstelingvis is geelstert – dis die grootste vissoort in die omgewing en ook een van die mees volhoubare spesies om te vang. Sustainable fishing is baie belangrik vir my. Jy moet ’n balans handhaaf; jy moenie gulsig wees nie.”
Mededinging
Hy verkies dit meestal om op sy eie vis te skiet, maar het in 2015 aan visskiet-kompetisies begin deelneem.
Vlooi is in 2016 – slegs ’n jaar nadat hy aan visskiet-kompetisies begin deelneem het – gekies om as lid van Boland se C-span aan die nasionale visskiet-kampioenskap in Stilbaai deel te neem. Dié span het die C-liga gewen en Vlooi het in die individuele afdeling in die top-10 geëindig.
“Ek was baie chuffed, maar het nie weer probeer om te kwalifiseer nie, want deelnemers moet gewoonlik ver reis, en dis baie duur,” verduidelik hy.
Sy spanmaats Ryan Lategan en Addo Botha van die Hugenote-visskietklub het hom egter aangemoedig om aan die nodige kompetisies deel te neem om vir hierdie jaar se nasionale kampioenskap, wat van 8 Mei in KwaZulu-Natal gehou word, te kwalifiseer.
Hy het vir die kampioenskap gekwalifiseer en om geld hiervoor in te samel, het Vlooi ’n lootjie met wyn ter waarde van R5 000 op die spel en ’n geldinsamelingsveldtog op gogetfunding.com begin. Volgens Vlooi het hy reeds die helfte van sy teiken bereik, maar die uurglas loop vinnig leeg om die res in te samel.
Mense kan geld skenk deur https://gogetfunding.com/spearfishing-nationals-in-may/ te besoek of kan die lootjie ondersteun en die kans staan om die geskenkpak met wyn van onder andere Crystallum en Mulderbosch te wen.
Betaal die geld vir die lootjie in sy rekening (A.Botha; FNB Savings Hermanus; Acc #: 62448029513) met WEN sowel as jou voorletter en van as verwysing om in aanmerking te kom. Vlooi sal die trekking op 1 Mei om 19:00 regstreeks op sosiale media (Facebook: https://www.facebook.com/vlooi.botha.7 of Instagram: vlooi_botha) doen en die wenner aankondig.





