Die vragmotor wat op pad na Grabouw naby die Theewaterskloofdam omgewaai is.


Die eerste van ’n aantal kouefronte wat deur die SA Weerdiens voorspel is, het Woensdagnag reeds swaar reën en stormsterk winde gebring, wat grootskaalse skade veroorsaak het.

Reinard Geldenhuys, hoof van die Overberg-distriksmunisipaliteit (ODM) se rampbestuureenheid, sê stormskade in Grabouw, Swellendam en die Overstrand is aangemeld. “In Grabouw is paaie oorstroom en stormwaterstelsels verstop. Noodspanne is uitgestuur. In die Overstrand is kragonderbrekings aangemeld en water het deur huise gestroom.

“Huise se dakke het in die Swellendam-omgewing afgewaai en bome is omgewaai. Geen skade is tot dusver in die Kaap Agulhas-omgewing aangemeld nie,” sê Geldenhuys. Die Overstrand-munisipaliteit het bevestig dat groot dele van die Overstrand sonder krag gelaat is en tegnici van Eskom is besig om die oorsaak van die probleem te bepaal. Dit is onbekend wanneer kragvoorsiening herstel sal word.

Elders in die Overberg het drie mans Woensdag ligte beserings opgedoen toe die vragmotor waarin hulle gereis het, op die brug oor die Theewaterskloofdam (naby die afdraai na Franschhoek) deur sterk rukwinde omgewaai is. Die mans is deur nooddienswerkers behandel en die vragmotor is verwyder. Motoriste wat op dié roete reis, word gewaarsku om uiters versigtig te wees. Die TWK se noodspanne het Woensdagaand vinnig reageer om ’n boom wat omgewaai en die R321 by Peregrine versper het, te verwyder. Spanne het ook Woensdagaand naby Kleinmond in die donker gewerk om ’n boom wat oor die pad geval het, te verwyder en die padoppervlak skoon te maak.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het vroegoggend reeds boodskappe uitgereik om motoriste te waarsku dat Ou Kaapseweg oorstroom is. Verkeers- en wetstoepassingsbeamptes is op die toneel om verkeer te herlei. Nog ’n kouefront sal na verwagting teen vanaand (Woensdag) inbeweeg.

Die SA Weerdiens voorspel weerstoestande kan teen Vrydag verbeter, maar die kwik sal nie veel styg nie. Geen reën word vir Vrydag vir Hermanus, Grabouw of die Agulhas-omgewing voorspel nie. ’n 60%-kans op reën oor die Overberg word wel in die vooruitsig gestel.Die weerdiens voorspel minimum temperature van 8 °C en ’n maksimum van 17 °C Saterdag vir Grabouw. Die minimum vir Hermanus vir Saterdag word as 12 °C voorspel, en die maksimum 17 °C.Omdat die grond reeds nat is, sal die voorspelde reën heel moontlik tot oorstromings lei. Die weerdiens het ook teen die moontlikheid van modder- en rotsstortings gewaarsku.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article