Nie ’n haartjie is uit sy plek nie en die grimering is so keurig opgesit dat dit lyk asof dit deur ’n professionele grimeerkunstenaar gedoen is.
Licrecia Wildschut van Caledon en ’n leerder aan Swartberg Sekondêr en Jaylin Farmer van Grabouw en ’n leerder aan die Hoërskool Grabouw, kan nie wag om week ná week hul trompoppieklere aan te trek en só letterlik hul beste voetjie voor te sit nie.
Dié twee is ook die Overberg se trots, want hulle gaan in September nie net Suid-Afrika nie, maar ook die Overberg by die MWF-wêreldkampioenskap in Kroasië verteenwoordig.
Selfs die onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, John Michels, het spesiaal sy gelukwensing aan hulle oorgedra.
Praat jy met die twee tieners se ouers, kom jy gou agter Licrecia en Jaylin is kinders wat hul ouers trots maak.
“Ons kan met trots sê ons tieners is nie probleemkinders nie, maar twee wat trots is op wat hulle bereik het en hard werk vir hul prestasies,” het albei se ouers trots vertel.
Hulle liefde vir trompoppies kom al ’n lang pad saam met hulle. Licrecia is nou al vier jaar ’n trompoppie – vandat sy 11 jaar oud was.
Jaylin vertel: “Was dit nie vir my ma nie, sou ek nie ’n trompoppie kon wees nie. Sy is die een wat my daaraan bekendgestel het. Een van my vriende se suster was ook ’n drummie, en nadat ek gesien het wat sy alles doen, het die gogga my ook gebyt.”
Albei is dit eens dat die hoogtepunt van hul trompoppieloopbaan die insluiting in die Suid-Afrikaanse span is.
“My hoogtepunt was toe ek in 2019 my Boland-kleure ontvang het en die jaar toe ek gekies is om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig,” vertel Licrecia.
Jaylin sê sy het hard gewerk om die Suid-Afrikaanse span te haal. “Ek het nooit gedink ek sou gekies word om saam met die beste trompoppies in Suid-Afrika in ’n span te wees nie.”
As trompoppies nie die twee besig hou nie, sal jy Licrecia op die netbalbaan kry en Jaylin met musiek in haar ore besig om te dans.
“Ek geniet dit om nuwe dansstyle te leer en selfs choreografie lê na aan my hart. Al moet ek dit nou self sê, ek het nogal ritme,” vertel sy skamerig.
Vir Licretia is om lid van ’n span te wees, baie lekker.
“Ek hou van mense om my en geniet dit baie om netbal te speel. Dit hou my lekker fiks ook,” sê sy.
Volgens hulle sou hulle dit nie kon regkry sonder die ondersteuning van hul gesinne nie en hulle is dankbaar vir dié steunpilare in hul lewe.
“Ek kyk baie op na my pa, want ek het uithouvermoë by hom geleer. Ek het ook geleer om trots te wees op dit wat ek doen, en as ek iets doen, moet ek dit na die beste van my vermoë doen,” sê Licretia.
Jaylin vertel sy voel geseënd om deel van hierdie “eenkeer-in-’n-leeftyd-geleentheid” te wees, maar sou dit nie kon regkry as dit nie vir haar familie was nie. “Dit sou nie moontlik gewees het sonder my ouers, my twee oumas, my skole, my suster en die Grabouw-trompoppies nie. Dan wil ek ook graag die Grabouw-gemeenskap bedank vir hul ondersteuning,” vertel sy.
Hulle sien daarna uit om hul vlerke te sprei en op die vliegtuig te klim en die land te gaan verteenwoordig, maar sê ook: “Daar is nog baie water om in die see te loop . . .”
Geld bly vir hulle ’n groot probleem en hulle hoop dat dit nie in hul pad gaan staan om hul droom te verwesenlik nie.
“Nie net ons nie, maar ook ons families, het alles ingesit om ons by te staan om hierdie doelwit te bereik, maar die geld bly ’n kwessie. Baie geld is nog uitstaande en ons hoop ons kry dalk ’n borg om ons te help,” sê hulle.
Mense wat graag wil bydra, kan 079 876 1977 skakel.





