Die 20 finaliste in die 2024 FNB- Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie. Foto: OCTA 5 Photography


Dit is een van die gewildste wyne oor Suid-Afrika heen en word veral in die somer genuttig.

Die Suid-Afrikaanse sauvignon blanc bied ’n toenemend veelsydige keuse in styl en kompleksiteit aan verbruikers. Hiervan getuig die 20 finaliste wat bo-aan die punteleer staan in vanjaar se FNB- Sauvignon Blanc Suid-Afrika se Top 10-kompetisie.

’n Paar wyne van die Overberg is onder die 20 finaliste – Cederberg Wines Ghost Corner Sauvignon Blanc 2024 (Elim), Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment 2023 (gehout) (Elim), Hermanuspietersfontein Kat met die Houtbeen Sauvignon Blanc 2022 (gehout), Iona Elgin Highlands Sauvignon Blanc 2024 en Iona Elgin Highlands Wild Ferment Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Elgin).

Volgens ’n woordvoerder van die kompetisie het ’n paneel vooraanstaande kundiges onder leiding van die Kaapse wyn­meester dr. Winifred Bowman die top-20-aanspraakmakers uit altesaam 160 wyne van 91 produsente aangewys.

“Vanjaar se finaliste kom uit uiteenlopende wynstreke met veral koeler streke wat meer as een finalis opgelewer het. Die 2023-oesjaar skitter met nie minder nie as 12 finaliste, wat die uitstaande gehalte van hierdie oesjaar beklemtoon. Ses finaliste is van die 2024-oesjaar en een elk van 2022 en 2020. Dit is verblydend dat wynmakers ouer oesjare inskryf, wat bewys dat sauvignon blanc wel kan verouder,” sê Bowman.

“Die paneel het agt gehoute wyne vir die uitgelese groep finaliste gekies – wyne wat besonderse kompleksiteit vertoon sonder om die aromatiese karakter van sauvignon blanc te verbloem.”

Saam met Bowman op die paneel was die wynkenners Johann Fourie, die hoof­wynmaker by Benguela Cove Lagoon-wynlandgoed; dr. Carien Coetzee, ’n wynkundige by Basic Wine; Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel Wines en Mahalia Kotjane, eienaar-wynmaker van Three Quarter Wines. Twee protégé-beoordelaars, Kelsey Nel, assistent-wynmaker by die Hartenberg-wynlandgoed, en Anke van Zyl, ’n intern by Neil Ellis Wines, het ook aangesluit.

Volgens RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA, is die kompetisie, wat sedert 2007 aangebied word, die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie wat uitsluitlik aan sauvignon blanc toegewy is. “Ons is dankbaar teenoor die titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER Solutions vir hul waardevolle langtermyn-belegging in uitnemendheid van die sauvignon blanc-kultivar en die SA wynbedryf,” sê Botha.. Die top-10-wenners word op Woensdag 16 Oktober by die FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-prysuitdeling asook op die webwerf www.sauvignonblanc .com en op sosiale media aangekondig. Volg Sauvignon Blanc SA op X (@SauvignonSA), en op Facebook, Instagram, en LinkedIn (@sauvignonblancsa) en sluit aan by die gesprek deur #SauvignonBlancSA te gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article