Wanneer dit by skaak kom, is daar nie veel wat ‘n mens Sam Brink van dié spel kan vertel nie, want sy speel immers al van sewejarige ouderdom met oorgawe. (“Koningin van die skaakbord”, Hermanus Times, 29 Junie 2022).
Sam, ‘n 16-jarige graad 11-leerder aan die Hoërskool Overberg, het die Wes-Kaap in Desember by die Mzansi-interprovinsiale jeugskaakkampioenskap, wat in Gqeberha plaasgevind het, verteenwoordig.
As lid van die o.18-Wes-Kaap-span het Sam besonder goed gevaar en vier van haar vyf rondes gewen. Tydens die Overberg -skole-opeskaaktoernooi, wat op 31 Januarie by Swartberg Sekondêr in Caledon plaasgevind het, het Sam weer eens haar staal gewys.
Nie net het sy vier uit ses rondes gewen nie, maar is sy ook as die beste vroulike speler van die toernooi aangewys. Daar gaan nog gewis baie van Sam gehoor word.





