Deelnemers van die Partners for Possibility-program, waarin sakeleiers vennootskappe met die skoolhoofde aangaan om verandering te bewerkstellig.


In die tye waarin ons tans leef – waar ons elke dag nie net misdaad moet oorkom nie, maar ook die moeilike ekonomiese situasie – is dit belangrik dat verskillende organisasies en entiteite hande vat om kop bo water te hou.

Een só program is Partners for Possibility (PfP), die vlagskip-program van Citizen Leader Lab NPC.

“PfP is ’n nasionale, multidissiplinêre inisiatief wat aan die voorpunt staan van ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse basiese onderwysstelsel, met die doel om die opvoedkundige doelwitte van die departement van basiese onderwys asook die Nasionale Ontwikkelingsplan (NALP) na te streef en te verwesenlik. Die PfP-program ondersteun sedert sy ontstaan reeds meer as 1 849 skoolhoofde,” het Jessica Batts, fasiliteerder van leerondersteuning van die Citizen Leader Lab, gesê.

Volgens haar moet die skoolhoofde ’n spesiale ontwikkelingsprogram voltooi, wat hulle toerus met die vaardighede en kennis om verandering in hul skole te bewerkstellig om sodoende ’n bydrae tot die vooruitgang van die skool te lewer.

“Die program behels formele opleiding (10%) gekombineer met sosiale leer (20%) en eksperimentele leer (70%). Dit sluit ook ’n professionele lewensafrigter in, wat die skoolhoofde ondersteun,” het Batts gesê. “Vennootskappe word tussen skoolhoofde van minderbevoorregte skole en sakeleiers gestig. Die hoofde word sodoende vennote – partners for possibility – en ook deel van ’n span onder leiding van ’n bekwame fasiliteerder.”

Die Citizen Leader Lab het in Augustus weer ’n nuwe leierskapgroep in die Overberg-streek bekendgestel en die skole wat deel van die groep is, is skole van Villiersdorp, Greyton, Grabouw, Hawston, Mount Pleasant en Stanford.

“Bekende sakeleiers van die onderskeie sakegemeenskappe van Villiersdorp, Greyton, Grabouw, Hermanus en Stanford het hulle beskikbaar gestel om hul vaardigheide, kennis en ondervinding en netwerke in vennootskap met hierdie skoolhoofde met hulle en hul skoolgemeenskappe te deel,” het Batts gesê. “Die impak van hierdie vennootskappe oor die nege skole sal die lewe van 8 379 leerders aanraak en ons is dankbaar vir rolspelers wat die ekstra myl stap om ’n verskil te maak.”

Dié rolspelers is Gideon Serfontein (Hermanus-sakekamer), André Filander en Thomas Volkwyn van die Overberg-onderwysdepartement en dr. Paul Cluver van die Elgin-stigting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article