Safcol het in die tweede helfte gewys waarom hulle die Boland-Grootuitdaagbeker-reeks se verdedigende kampioen is.Foto’s: Mariëtte Strydom


Die uitspeelwedstryde vir die Sanlam-Grootuitdaagbeker-kampioenskap se top-12-spanne begin op 12 Oktober en die spelers en ondersteuners van die onderskeie spanne kan nie wag om te hoor teen wie hul gunstelingspan gaan speel nie.

Die aankondiging van wie teen wie en waar die top-12-spanne mekaar gaan aandurf, word vanaand (25 September) bekend gemaak. Die halfeindstryd en eindstryd word op onderskeidelik 16 en 23 November in die Boland-rugbystadion in Wellington gespeel.

In die Overberg-streek is daar geen geheim dat dit Caledon en Safcol is wat na die uitspeelwedstryde deurgedring het nie.

Worcester Villagers het op 7 September op Esselenpark-stadion al seker gemaak dat hy sy plek in die top-12-uitspeelwedstryde van die Boland-Grootuitdaag-kompetisie inneem toe hy ’n gelykopwedstryd (32 elk) teen sy buurklub, Young Hamiltons, gespeel het. Die ander span van die Breë-Langeberg-streek wat na die top-12 deur is, is Robertson Town.

Vredenburg se Burg Boys is die nuwe Weskus-streekkampioen. Dié span van Ryno Benjamin het verlede Saterdag in Mamre 18-20 teen die tuisspan vasgeval, maar het die een punt wat die span benodig het om as die nuwe kampioen gekroon te word verdien deur met minder as sewe punte te verloor.

Vredenburg was voor die wedstryd gelyk met die voormalige Boland-kampioen, Saldanha, op die punteleer. Saldanha het gehoop dat Vredenburg nie die nodige punt sou kry nie. Saldanha sou dan die streekkampioen wees.

In die Swartlandstreek is dit Abbotsdale en Darling wat kragte teen die ander streke gaan meet terwyl die Witsentraal-streek deur Newtons en Ceres verteenwoordig gaan word. Young Spurs en Eagles is van die Noordwes-streek. African Rainbow Community Gold Cup

Intussen het Safcol (die verdedigende kampioen van die Boland-Grootuit­daagreeks) Saterdag in die Arc Gold Cup teen Heidelberg-rugbyklub van die Suidwestelike distrikte gespeel.

Die wedstryd is in Grabouw gespeel, waar die span van Grabouw van die begin af gewys het dat hy te sterk is vir sy teenstanders. Die voorspelers het veral letterlik oor hul teenstanders geloop en die wedstryd in baie winderige omstandighede 31-12 gewen.

Die verdedigende kampioen, die Naka-Bulle van Pretoria, het Saterdag teen die span van Sishen in die Noord-Kaap gespeel.

Die ARC Gold Cup is ’n uitkloptoernooi waar die land se 32 beste amateur-rugbyklubs teen mekaar te staan gaan kom.

Safcol, die Boland-wenners, sien baie uit na dié toernooi waar hulle ook hul kragte teen ander provinsies kan meet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article