Getroue Safcol-ondersteuners wens Connor Mahoney geluk met sy drie.Foto’s: Bianca Du Plessis


Wat Hawston Skrik vir Niks die meeste gevrees het, het Saterdag waar geword toe Safcol van Grabouw hom op sy tuisveld, Die Bos, verslaan het.

Dit was Hawston se derde nederlaag in drie weke – Rangers het 2022 se Overberg-Grootuitdaagkampioen op 20 Mei 22-15 verslaan, gevolg deur SVN se 22-15-nederlaag teen Caledon en Saterdag se 36-32-nederlaag teen Safcol.

Safcol het reg van die begin af die voortou geneem en teen rustyd 19-15 voorgeloop.

Warren Johnson, Hawston se A-span-afrigter, sê Saffies se manne het bloot Hawston se swak verdediging uitgebuit. “Ons skrums was goed, maar Safcol het die oorhand in die losskrums gehad.”

Hawston het in die tweede helfte vir sy foute probeer opmaak en ’n ommeswaai gebring om die telling 32-31 in sy guns te maak, maar ’n oorwinning is in die doodsnikke van die span af weggeraap toe Safcol Hawston se verdediging uitoorlê en Andrew Mepomie oorgeduik het om Safcol 36-32 te laat seëvier.

“Ons manne is baie seer ná die nederlaag, maar ons het nog hoop, want ons is net vyf punte agter Safcol, wat nou boaan die punteleer is,” het Johnson gesê.

Elders in die Overberg het Bredasdorp Rangers die Genadendallers 55-5 gelooi, Kleinmond het Caledon 13-7 geklop, Grabouw se wedstryd teen Black Leaves het 31-29 in Grabouw se guns geëindig en Botrivier het Riviersonderend 32-20 kafgedraf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article