Hawston Skrik vir Niks se kaptein, Branden Hunter, het weer eens sy span tot oorwinning oor Bredasdorp Rangers se Tiere gelei.Foto’s: Sonja van Zyl Photography


Saterdag se wedstryd tussen die manne van Hawston Skrik vir Niks en Bredasdorp Rangers se Tiere was ’n stryd tot die bitter einde.

Dié twee spanne het van begin tot einde als ingesit en sake uitgespook in die wedstryd, wat sou beslis watter span saam met Safcol van Grabouw na die Top-12 van Boland-rugbyunie se Grootuitdaag-kompetisie sal deurdring.

Saffies, wat die span van Botrivier se vuur oortuigend met ’n eindtelling van 35-18 geblus het, is ná ’n suksesvolle seisoen as die Overberg se Grootuitdaag-kampioen gekroon en gemaklik verseker van hul plek in die Top-12.

Safcol het die jaar op ’n hoë noot begin toe hy as die promotorskeuse (wild card) gekies is om aan die 2023-Saldanha-Paasnaweek-toernooi deel te neem. Saffies het al drie sy wedstryde by dié gesogte toernooi gewen en met die eer sowel as aansienlike prysgeld weggestap. Die span van Grabouw het ook vroeër vanjaar koning gekraai by Nissen Holdings se Overberg-uitdaagbeker.

Dié jaar se Overberg-Grootuitdaag-kampioene het hul staal gewys en slegs twee wedstryde, onderskeidelik teen Bredasdorp Rangers en Grabouw, hierdie seisoen verloor.

Skrik vir Niks, wat vir vyf jaar as die Overberg se Grootuitdaag-kampioen koning gekraai het, is tweede op die punteleer met 68 punte teenoor Safcol se 74 ligapunte, met Rangers in derde plek met 65 punte.

Riviersonderend, die nuwelinge in die Overberg-Grootuitdaag-liga, het ná ’n streep nederlae die kop opgelig en alles in die stryd gewerp om nie onderaan die punteleer te eindig nie; dié eer behoort aan die span van Genadendal.

Safcol en Hawston SVN sal die Overberg verteenwoordig in die Top-12-wedstryde wat van 14 Oktober tot 25 November gespeel word.

Villiersdorp wat as die Overberg- streekuitdaag-kampioen gekroon is, sal volgende jaar ook in die Grootuitdaag-liga uitdraf.

Theewaterskloof-munisipaliteit se onderburgemeester, John Michels, het die spanne van die TWK-distrik gelukgewens.

“Graag wil ek vir Golden Eagles van Radyn in Villiersdorp, Spring Roses van Molteno in Grabouw, Villiersdorp- rugbyklub en Safcol-rugbyklub geluk wens met hul prestasies. Hierdie spanne is almal van die Theewaterskloof en het almal in hul onderskeie afdelings in die Boland-kompetisie gewen. Hulle is die Overbergse kampioene in hul onderskeie afdelings.

“Dit wil gedoen wees, en as onderburgemeester van Theewaterskloof is ek trots op julle.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article