Die span van wetstoepassing van die Overstrand-munisipaliteit het gehelp om ou kennisgewingborde op die Cliff Path te verwyder.

Saam-saam loop hulle die ekstra myl om een van Hermanus se mees geliefde toeristeaantreklikhede skoon en netjies te hou.

Die Cliff Path was al om verskeie redes in die nuus, hetsy dit ‘n hofgeding is of oor die omstrede swembad, wat Bayview jare gelede opgerig het. Maar daar is ook goeie nuus en dit is dat die Cliff Path Management Group saam met die Overstrand-munisipaliteit werk om toe te sien dat die paadjie netjies en toeganglik vir almal is om te geniet.

Die wetstoepassingspan van die OM het die skoonmaakpoging verlede week ondersteun deur oortollige kennisgewingsborde langs die pad te verwyder om vir nuwe borde plek te maak. Die borde is deur Hermanus Rotary geborg.

“Hierdie nuwe kennisgewingsborde sal van die Nuwe Hawe tot Grotto-strand strek,” het dr. Dean O’Neill, die munisipale bestuurder van die OM, gesê.

Volgens hom moet inwoners en besoekers nie vullis stort nie. “Onthou ook om altyd jul honde aan leibande te hou en ruim agter jul honde op,” het hy gemaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article