Tommy Wilson het diep spore in sy oud-kollegas, leerders en die gemeenskap se harte en lewe getrap.


In sy loopbaan wat oor meer as 36 jaar gestrek het, het Tommy Wilson, oudskoolhoof van Gansbaai Academia, talle mense se lewe geraak en diep spore in die onderwysgemeenskap getrap.

Dit was duidelik uit die talle boodskappe van medelye en huldeblyke wat ingestroom het sedert die nuus van sy afsterwe Dinsdag 30 Julie bekend gemaak is.

“Meneer T. Wilson sal onthou word vir sy sterk leierskap, deernisvolle geaardheid en onwrikbare toewyding aan die Gansbaai Academia-gemeenskap. Hy was ’n gerespekteerde figuur wat hoog geag was deur die hele gemeenskap . . . Ons sal vir ewig dankbaar wees vir meneer Wilson se leierskap en sy bydraes wat van onskatbare waarde was. Sy nagedagtenis sal voortgaan om ons te inspireer en hy sal gemis word,” lui Gansbaai Academia se plasing op Facebook.

Wilson (66) is in 2010 as Gansbaai Academia se hoof aangestel in ’n pos wat hy tot sy aftrede in 2020 beklee het.

Hy het sy onderwysloopbaan as ’n groentjie by Langeberg Sekondêr in Robertson begin, waar hy natuurwetenskap en geskiedenis aangebied het.

Wilson was sedert 1984 ’n onderwyser by Worcester Sekondêre Skool, waar hy vir ’n paar jaar as hoof waargeneem het.

Worcester Sekondêre Skool het ook ’n roerende huldeblyk op Facebook gedeel waarin Wilson as “ ’n prinsipaal by uitstek, ’n leier met passie en ’n opvoeder met ’n hart” bestempel is.

Dit lui verder: “Jou liefde vir die leerders was tasbaar; sigbaar; (jy het) soveel motivering aan hulle gebied (en) geglo in elkeen; ’n omgee-mens maar tog so ferm gestaan vir die skool, vir u visie om ons skool a school par excellance te maak . . .

“Baie dankie, Meneer, vir u bydrae . . . Baie dankie vir die ekstra myl wat u gestap het. Baie dankie – nie net vir kollega wees nie, maar ook ’n pa, vriend, broer (en ’n) mentor vir baie van ons asook vir ander. U bulderende stem is nou stil, maar u sal voortleef in ons herinneringe. Rest in peace, Mr Wilson, your legend lives on . . .

Tragedie het Wilson in 2019 getref toe hy en sy vrou, Julia, op die R43 tussen Villiersdorp en Worcester in ’n ongeluk betrokke was. Julia het in dié ongeluk gesterf en Wilson was in ’n kritieke toestand. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy nog ’n terugslag beleef toe hy ’n beroerte gehad het. Hy het egter die lang pad na herstel moedig aangepak en het daarna weer sy pos as hoof van die Sharkies hervat tot sy aftrede ’n jaar later in 2020.

Gansbaai Academia het Dinsdag 6 Augustus ’n spesiale roudiens by die skool gehou. Die begrafnis is Saterdag om 10:00 in die Worcester VGK in Adderleystraat, Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article