Die span van Atlantics in Hermanus is op pad na die halfeindstryd van die Super-16-kragmeting.

Saterdag was daar ‘n fees van rugby in Hermanus by die Atlantics-rugbyklub toe die tuisspan vir Progress Suurbraak vir hul Super16-kragmeting daar ontmoet het.

Progress moes die wedstryd met ‘n bonuspunt wen om na die halfeindstryd deur te dring. Hy moes dit egter ook doen sonder dat Atlantics self ‘n bonuspunt kry.

Dit was eintlik ‘n onmoontlike taak, want Atlantics, wat nog nie een wedstryd hierdie seisoen verloor het nie, se giftige agterlyn is gewis ‘n doring in die vlees vir enige span. En dit was net so vir Progress aangesien Atlantics Saterdag maklik 38-17 gewen het.

Atlantics het met goeie samespel tussen die voor- en agterspelers vroeg in die wedstryd al punte aangeteken. Voor het die span van Hermanus oorheers en Progress was die hele tyd op die agtervoet. Progress se verdediging het egter teleurgestel, wat veroorsaak het dat Atlantics nie net strafskoppe gekry het nie, maar ook kort-kort agter die doellyn gaan kuier het.

Atlantics is dié jaar Hermanus se trots en ná Saterdag se wedstryd het die bestuur die span en sy ondersteuners op sy Facebook-blad bedank: “Saterdag se wedstryd was vol opwinding en spanning – op en weg van die veld af. Ons spelers het weer eens karakter teen die goed voorbereide span van Progress getoon. Ons het geweet dit gaan nie ‘n maklike wedstryd wees nie, maar Atlantics het nooit moed opgegee nie en as span tot die einde toe gespeel. Op die ou einde gaan dit oor rugby, dissipline en respek.”

Atlantics speel in die halfeindstryd op 14 November teen Lovedale in Wellington.

• Nog ‘n span van Hermanus wat uitstekend vaar, is die Walkerbay Babes. Dié vrouerugbyspan van Hermanus het Saterdag in hul Super8-kragmeting ‘n kriekettelling teen die span van Hexvallei opgestel.

Die vroue het maklik 155-0 gewen. Dit was geen kompetisie vir die span van Hermanus nie en die Hermanus-vroue het van die begin af gate deur die agterlyn van Hexvallei gehardloop en die een drie ná die ander ingeryg. Die trotse afrigter van die Walkerbay Babes, Thomas Chowles, kan nie uitgepraat raak oor sy span se vertoning nie en sê hulle moenie nou op hul louere rus nie en moet goed voorbereid wees vir hul volgende wedstryde.

Die Walkerbay Babes is eerste op die Super8-punteleer met 10 punte en dit lyk of hulle ‘n gunsteling is om die Super8-kragmeting te wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article