Die rugbyliga is nou in die pylvak en in die Overberg-streek is die mededinging baie straf.
Safcol van Grabouw het Saterdag gewys waarom hy die Saldanha-Paastoernooi vroeër vanjaar gewen het en is definitief een van die gunstelinge om vanjaar boaan die punteleer van die Grootuitdaagreeks van die Overberg-streek te eindig.
Ná verlede naweek se naelskraapse oorwinning oor Hawston Skrik vir Niks het rugbyliefhebbers geweet die wedstryd tussen Bredasdorp Rangers en Safcol gaan baie straf wees en die manne gaan mekaar veral voorlangs takel.
Saffies het uit die staanspoor oorheers en op die ou einde met 35-19 teen Rangers (Tiere) gewen.
Die Tiere-ondersteuners het veral gal gebraak op Facebook oor die wenspan wat op die nippertjie verander is. Selfs die kaptein van die Rangers het Saterdag op die bank begin. “Dis belaglik. Elke jaar word aan die einde van die liga aan ’n wenspan gekrap – dis amper asof iemand binne die klub nie wil hê ons moet in die top-12 speel nie. Ek is ’n trotse Rangers-ondersteuner, wat al jare saam met die klub kom, en dít wat die afgelope jare gebeur, moet nou uitgeskakel word; ons moet as ondersteuners saamstaan,” het een van die ondersteuners op Facebook gesê.
Baie ondersteuners het met die Facebook-gebruiker saamgestem, maar talle het dit duidelik gestel die Rangers is deur ’n beter span gewen en die ondersteuners moet die bestuur in hul besluite ondersteun.
Een ondersteuner het dit mooi gestel en gesê: “In plaas daarvan om dit ’n wen-en-verloor-situasie maak, maak dit ’n wen-en-leer-situasie. Die Tiere weet van opstaan; ons doen dit al langer as 100 jaar. Never give up . . . bly gefokus.”
In Botrivier, waar Caledon en Botla Fire mekaar die stryd aangesê het, het die hare behoorlik gewaai toe Caledon van die veld af gestap het nadat die span ontevrede was oor een van die skeidsregter se beslissings.
Gemengde gevoelens het onder die toeskouers en ondersteuners geheers nadat die span voor die eindfluitjie afgestap het.
“Ek was nie daar nie, maar ek dink dit was reg om van die veld af te stap. Klubs word naweek vir naweek deur die skeidsregters voorgetrek,” het ’n ondersteuner op Facebook gesê.
Volgens ’n ander ondersteuner, wat anoniem wil bly, is dit dalk swak sportmangees, maar iets wat nodig geword het.
“Ek kan nie verstaan dat die Boland-rugbyunie nie teen skeidsregters kan optree wat oop en bloot ander spanne bevoordeel nie. As jy ná die wedstryd die wedstryd op YouTube kyk, is dit skokkend om te sien hoe van die skeidsregters blaas.
“Dis tyd dat afrigters en voorsitters van die klubs saamstaan en die swak blasers op hul foute begin wys. Ons as ondersteuners voel saam met die span as hulle te na gekom word,” het hy gesê.
Op die ou einde het Botrivier 26-19 teen Caledon gewen.
In ander wedstryde het Hawston Skrik vir Niks 31-11 teen Black Leaves van Gansbaai gewen en Riviersonderend moes teen Kleinmond die onderspit delf met 13-5.




