Die liga het nog nie begin nie, maar vriendskaplike wedstryde het al afgeskop en rugbyondersteuners is dit eens dat die Overberg se rugby baie gesond is.
Verskeie Overberg-spanne het Saterdag hul staal gewys en groot opgewondenheid het nie net op die veld nie, maar ook weg van die veld af geheers waar ondersteuners ná ‘n welverdiende rus na die rugbyvelde gestroom het om hul gunstelingspanne aan te moedig.
“Dit is duidelik dat ‘n harde stryd tussen die topspanne van die Overberg gaan heers – net soos voorheen. Hierdie jaar kan ons dalk ander gunstelinge sien. Hawston, Grabouw en Stanford is maar van die spanne wat hul hande tydens die ligaseisoen gaan opsteek. Saterdag se wedstryde het gewys dat die ander klubs nie die Overberg-spanne moet onderskat nie. Net soos in die verlede is ons spanne nie net fisiek voor nie, maar ons agterlyne is baie gevaarlik,” het ‘n ondersteuner gesê.
Saterdag het Universals van Stanford korte mette met Saldanha gemaak en hulle maklik 50-10oorheers. Botrivier het Bella Vista van Ceres 29-12 geklop en Atlantics het Kleinmond 47-19 gewen. Grabouw, wat hierdie jaar met nuwe vuur speel, het die Sir Lowrians 46-24 gelooi terwyl Gendadendal die Young Hearts 17-12 geklop het. Die Bredasdorp Rangers het Standards 15-10 gewen.
Saterdag hervat die vriendskaplike wedstryde en Safcol van Grabouw gaan teen Delicious te staan kom terwyl Hawston Watsonia sal pak. Botrivier gaan met Heidelberg kragte meet terwyl die Canola Boys van Caledon Bonnievale se Blue Birds gaan takel. Kleinmond speel teen Saldanha en Grabouw vat die Highlanders aan. Universals sê Struisbaai die stryd aan terwyl Black Leaves en Atlantics teen mekaar gaan speel. Bredasdorp se Rangers gaan ook sy staal wys teen Montagu Villagers en Genadendal en Swellendam gaan teen mekaar speel. Villiersdorp en Riviersonderend gaan ook die naweek kyk wie bo gaan uitkom terwyl die Sea Hawks Montagu se span gaan aandurf.




