Al het hy besluit om vanweë sy sporttalent sy skoolloopbaan in die noorde voort te sit, bly Demitri Erasmus se hart in Grabouw.
Dié graad 12-leerder aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria is nie net vir die SA Skolespan gekies nie, maar het ook ’n kontrak by die Blou Bulle-rugbyunie losgespeel.
Volgens sy trotse ma, wat steeds in Grabouw bly, gee sy alle eer aan die Here vir haar “yster” se prestasie. “Ek wil ook graag die Hoërskool Garsfontein bedank en veral Gustav Theunissen en die afrigters wat nooit opgehou glo het in Demitri nie. Dankie vir die moeite wat julle in ons seun gesit het. Ons is nooit spyt dat ons hom na julle toe laat gaan het op die ouderdom van 15 nie. Dankie ook aan sy ander ‘ma’, Vernadette Lourens, dat julle so mooi na hom gekyk het,” het Daina Erasmus gesê.
Volgens Daina huil hulle steeds van blydskap nadat hulle die goeie nuus gehoor het. “My man is altyd die een wat hom moed inpraat as hy huis toe verlang. Ons is geweldig trots op hom en so dankbaar oor dit wat die Here oor sy lewe gebring het,” sê sy.
Demitri het sy skoolloopbaan in Glen Elgin Primêr begin en is toe na HTS Drostdy voordat talentsoekers hom raakgesien het en ’n beurs vir Hoërskool Garsfontein aangebied het. “Hy het baie goed op laerskoolvlak presteer en Boland drie keer verteenwoordig,” vertel Daina.
Dié buitesenter met sy vlugvoetige voete laat jou dink aan die jong Danie Gerber. Selfs sy afrigters noem hom die speler met die voete van goud en selfs 007, want hy sien ’n breek en kom met elke lopie óf oor die voordeellyn óf gaan kuier agter die doellyn.
Demitri leef vir rugby en kan nie wag om Saterdae, as hy nie self op die rugbyveld is, sy gunstelingspan, die All Blacks, te ondersteun nie. “Ek hou van die passie waarmee hulle elke wedstryd aandurf. My gunstelingspeler is die Nieu-Seelandse senter Rieko Ioane en die provinsiale span wat ek ondersteun, is die Chiefs,” vertel hy.
Hy is ook iemand wat nie toelaat dat omstandighede hom onderkry nie en sê elke uitdaging is vir hom ’n geleentheid. “My leuse waarvolgens ek lewe is nie verniet see the possible in the impossible nie,” sê hy.
Sy raad vir jong opkomende rugbyspelers is om te glo in dit wat jy doen en nooit moed op te gee nie. “My toekomsdrome is om eendag vir die Springbokke te speel, al is my gunstelingspan die All Blacks. Ons word van kleins af grootgemaak met drome om eendag provinsiaal en later vir die Springbokke te speel en dan eendag jou land by die Wêreldbeker te verteenwoordig. Dit sal ’n eer vir my wees om daar te wees,” vertel hy.





