Anel saam met Roxy, wat die koppe oral in Hermanus laat draai.Foto: Mariëtte Strydom


Sy stap in die strate van Hermanus asof die dorp aan haar behoort. As jy haar die eerste keer sien, lyk sy soos iets uit die toneel Pretty Woman. Getooi en met selfvertroue laat sy die koppe draai.

Nee, ons praat nie nou van Julia Roberts nie, maar van Roxy, ’n steekhaar-foksterriër-kruising wat jou weens haar pienk gewaad twee keer sal laat kyk.

Haar eienaar, Anel Fernandez, vertel Roxy het so drie jaar gelede onverwags op hul pad gekom. “Sy was my skoonma, wat in Senekal in die Vrystaat gewoon het, se hond. Ons het Roxy geërf nadat my skoonma oorlede is. Dis seker die kosbaarste ‘erfporsie’ nog, want sy het letterlik in ons harte gekruip en van ’n skugter hondjie na ’n regte diva verander,” vertel Anel.

Anel en haar man het so vyf maande gelede van Christiana na Hermanus verhuis. Sy sê Roxy was ná haar ounooi se dood baie getraumatiseer. “Sy was alleen by my skoonma tydens haar afsterwe en wou haar nie uitlos nie. Ons was bekommerd dat Roxy nie by enigeen sou aanpas nie, en dit het baie aandag geverg om haar so te kry soos sy nou is. Sy was skaam en baie teruggetrokke en wou nie na mense toe gaan nie, maar nou is dit ’n heeltemal ander storie en geniet sy die aandag baie,” sê Anel.

Anel vertel verder dat Roxy die see en strand baie geniet en soos ’n regte dame daarvan hou om aan te trek en die strate in te vaar. “As ek eers haar hoedjie aantrek, kan sy nie wag om te gaan stap nie. Ons word om elke hoek en draai voorgekeer en almal wil foto’s van Roxy neem.”

Roxy is ook nie sommer ’n hierjy viervoetige dierekind nie – sy spog ook met haar eie handelsmerk. “Toe ons hierheen verhuis het, het ek my eie pasteie begin bak, en dit heet Roxy’s Pies. Ek is ook van plan om hondehoedjies op die mark te bring – alles onder Roxy se naam.”

Roxy gaan nog lank die koppe in Hermanus laat draai, en, wie weet, miskien word sy ook nog eendag as die “sakevrou van die jaar” aangewys . . .. Vir inligting oor Roxy’s Pies, bel Anel gerus by 072 868 7102.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article