Honderde mense het Dinsdagaand byeengekom tydens ’n spesiale gedenkdiens vir Maurencia Gillion, die ANC-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), wat tydens ’n werksessie van die NRP gesterf het.
Cameron Dugmore, leier van die ANC in die Wes-Kaap, Theo Olivier, voorsitter van die ANC in die Overberg en Marius Fransman, die voormalige voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, was ook teenwoordig by die diens in die Thusong-saal in Hawston.
Verteenwoordigers van die ANC-vroueliga het Gillion se huis in Hawston vooraf besoek om tydens ’n spesiale seremonie waar haar ANC-vroueligabloes buite gehang is, hulde aan Gillion te bring.
Dugmore het in sy huldeblyk genoem hoe passievol Gillion oor die jeug en hul opvoeding was en gepleit dat die wat haar geken het, hierdie nalatenskap sal laat voortleef.
Grant Gillion het dit beaam en gesê hoewel sy suster nooit enige kinders van haar eie gehad het nie, was sy ’n moederfiguur vir talle.
“Haar nalatenskap is die jeug wat verder gaan leer, ’n sukses van hul lewens gaan maak en in die gemeenskap sal terugploeg,” het hy bygevoeg.
Gillion het onder meer lede van die plaaslike jeugliga bemagtig om matrikulante te help om vir tersiêre studies en beurse aansoek te doen.
“Sy was ’n ystervrou vir baie van ons. Sy was nie net ’n leier in Hawston en die Overberg nie, maar op provinsiale vlak. Haar dood is ’n reuseslag,” het Dugmore gesê.
Hy het ter bemoediging van die familie ’n gedig deur David Hawkins getiteld She is gone gelees.
Verskeie sprekers het genoem hoe trots Gillion op haar erfenis en tuisdorp was en hoe sy geveg het om vissers, nie net van Hawston nie maar oorr die provinsie heen, se lot te verbeter.
“Wie sou gedink het ’n kind van Hawston sou eendag in die parlement dien?” het Furdinand Henn, ’n afgevaardigde van die vissersbedryf, gesê.
“Toe die regering ’n verbod op die oes van perlemoen aangekondig het, het Renna, soos ons haar genoem het, vir die bedryf geveg. Mense besef nie die rol wat sy in die visbedryf gespeel het nie, maar danksy haar kon meer as 150 perlemoenkwotahouers net in Hawston alleen weer werk.”
Volgens Dugmore verwag hulle binnekort ’n antwoord rakende die aansoek vir ’n staatsbegrafnis vir Gillion. Sy was gebore en getoë in Hawston en sal Saterdag in haar tuisdorp begrawe word.





