Riviersonderend was verlede Woensdag (27 Oktober) in pienk getooi nadat die twee biblioteke in die dorp inwoners meer oor borskanker ingelig het.
Gesondheidswerkers van Badisa het die inwoners by die Oostergloed-biblioteek meer oor die vroeë tekens van borskanker, selfondersoeke ensovoorts ingelig.
“Dit was baie insiggewend en definitief nodig om die inwoners meer oor dié soort kanker in te lig. Wat veral interessant was, is die feit dat borskanker nie net onder vroue voorkom nie, maar ook by mans gediagnoseer kan word,” het Abigail Adendorf van die Oosterlig-biblioteek gesê.
‘n Kankerbewusmakingsdag is ook by die Riviersonderend-biblioteek saam met ‘n gemeenskapsontwikkelingswerker, Maretta Lottering, gehou waar nie net die kankeroorlewendes se lewe gevier is nie, maar ook bewusmaking onder die gaste gedoen is.
“Ons het inspirerende stories gehoor en selfs lede van die departement van gesondheid gekry om as gassprekers op te tree waar hulle ons meer oor kanker en veral borskanker ingelig het,” het Phozisa Rasimeni van die biblioteek gesê. “Dit was ‘n inspirerende en insiggewende oggend.”
Die Badisa-werkers het ook by die geleentheid besluit om ‘n kanker-ondersteuningsgroep op die been te bring. “Dit is baie belangrik om so ‘n groep te hê – nie net om mekaar moed in te praat nie, maar ook om mekaar te ondersteun en net daar te wees vir mekaar,” het Rasimeni gesê.
Die lede wat gekies is om die ondersteunersgroep te lei, is Maretta Lottering, Jolene Brouwer, Phozisa Rasimeni, Muriel Kroukamp, Estelle Piersen en Merlynn Lottering.






