Inwoners en vakansiegangers is bekommerd oor die rioolstorting in Hermanus.


Inwoners is bekommerd oor die rioolstorting in natuurlike waterbronne in en om Hermanus en volgens hulle doen die Overstrand-munisipaliteit net mooi niks om die probleem hok te slaan nie.  

“Dit is vakansietyd en weer eens staar ons die probleem rakende rioolstorting in die gesig. Ek praat van die Kleinrivier. Die plekke waar die rioolpompstasies in Hermanus opgerig is, bly ‘n groot probleem, veral as jy na die pompstasies by Onrus, die Mosselrivier en Kleinrivier kyk,” het een van die lesers in ‘n brief geskryf.

Die Kleinriviermond is deesdae ‘n toeristeaantreklikheid, maar met die rioolstortingprobleem, is dit volgens die briefskrywer ‘n nagmerrie en is die probleem duidelik nie onder beheer nie.

Die Overstrand-munisipaliteit berig dat beurtkrag ‘n rol speel in die probleme by die pompstasies en dat daar ‘n veiligheidsband deur die verkenners by die verkennerkamp by die Kleinrivier opgerig is. 

Volgens die briefskrywer was daar ‘n groot rioolstorting by die Onrusrivier verlede jaar en het die munisipaliteit glo planne gemaak om die probleem hok te slaan, maar ‘n jaar later is daar weer probleme en steeds probleme. Gerugte doen ook die ronde dat van die mense wat gereeld by die Kleinrivier swem en aktief is, ‘n maagvirus opgedoen het. 

Volgens die munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit het beurtkrag ‘n impak op alles en is die Overstrand geen uitsondering nie.

Soos verwag gaan die gebruiklike toestroming van inwoners na die gebied oor die vakansietyd ons water-en-sanitasie-infrastruktuur onder groter druk plaas – ‘n situasie wat vererger gaan word indien Eskom voortgaan om hoër vlakke van beurtkrag toe te pas waar elektrisiteitsvoorsiening vir tot so lank as 4,5 uur op ‘n keer en vir tot 12 ure in ‘n 24-uur-tydperk ontwrig word. Wees gerus dat alles moontlik gedoen is om die impak teë te werk wat  verlengde ontwrigting van elektrisiteitsvoorsiening aan Overstrand se water-en sanitasie-infrastruktuur dalk kan hê soos mobiele kragopwekkers/tenkers sal op ‘n gereedheidsgrondslag wees om sensitiewe aanlegte te bedien indien nodig,” het O’Neill verduidelik. “Ongelukkig is alle aanlegte nog nie van kragopwekkers voorsien nie. Gevolglik kan inwoners in sommige hoogliggende gebiede dalk tydelik ‘n verlies aan waterdruk en selfs ‘n onderbreking in watervoorsiening ervaar wanneer beurtkrag vir verlengde tydperke toegepas word”.

Die munisipaliteit doen’n beroep op alle inwoners en besoekers om water spaarsaam te gebruik aangesien dit sal help om, eerstens, reservoirs se vlakke te handhaaf en, tweedens, die vloei van rioolwater te verlaag wat die las op rioolpompstasies sal verlig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article