Dat Moeder Natuur ’n mag is waarmee rekening gehou moet word, is die afgelope naweek weer bewys toe reusebranders die kus getref en grootskaalse skade aangerig het.
Sosiale media het behoorlik gegons van video’s en foto’s van hoë deinings en reusegolwe wat als in hul pad platvee. Bolle skuim, bamboes en ander opdrifsels was Sondag stille getuienis van die skade wat Saterdag deur die fratsgolwe veroorsaak is.
Die Overstrand-munisipaliteit het Maandag bevestig grootskaalse skade is aan kuswandelpaaie in verskeie dorpe aangerig.
“Die rampbestuur-eenheid sal heel moontlik hierdie kuspaadjies as voorsorgmaatreël sluit,” lui die munisipaliteit se verklaring.
Dele van die houtwandelpad langs Onrus en Vermont se kuslyn is heeltemal verwoes met houtpale wat soos vuurhoutjies deur die golwe se impak geknak is.
Die munisipaliteit se rampbestuur- en omgewingsbestuurafdelings werk sedert Sondag om die skade wat deur die fratsgolwe veroorsaak is, te bepaal.
Munisipale werkers en amptenare was Sondag druk aan die werk om bamboes, wat sommige paaie teenaan die see verswelg het, te verwyder.
Die bekende restaurant Fick’s, wat op die rand van die Fick’s-getypoel in Hermanus geleë is, het ook grootskaalse skade opgedoen. ’n Video op sosiale media wys hoe stoele, tafels en groot sonsambrele in die malende water, wat tot teenaan die restaurant se kombuis kolk, ronddryf. Dele van die houtdek en relings is ook verwoes.
Fick’s het op sy Facebook-blad aangekondig dat die restaurant tans weens die skade gesluit is. “Ons is dankbaar dat ons personeel en kliënte veilig en ongedeerd is. Ons sal binnekort terug wees,” lui die inskrywing verder.
Dele van die beton rondom die getypoel naby die Marine-hotel is ook tydens die storm beskadig.
Die verwoestende groot golwe is deur die springgety veroorsaak. Wanneer die aarde, maan en son in ’n reguit lyn lê (met vol- en donkermaan), werk die drie liggame se kragte saam en is hoogwater hoër as gewoonlik en laagwater laer. Dit word springgety genoem.




