Inwoners van Stanford gis na die eienaar van ’n bekende restaurant in Queen Victoriastraat Sondag deur wetstoepassingsbeamptes van die perseel af begelei is nadat hy vir die onwettige besit van perlemoen in hegtenis geneem is.
Adjudant-offisier Freddie Booysen, Stanford-polisie se woordvoerder, het bevestig dat beamptes van Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid die 29-jarige man Sondag in hegtenis geneem het ná drie eenhede heel perlemoen en 357 eenhede ontskulpte perlemoen in die restaurant gevind is.
Booysen berig dat die wetstoepassingsbeamptes op patrollie was toe hulle ’n wenk ontvang het van onwettige perlemoen by Searle’s Garagiste-restaurant.
“Die beampte het die restaurant binnegegaan en gevra om met die eienaar of bestuurder te praat. Hy het hom toe ingelig waarom hy daar is en het die bakke met perlemoen in die kombuis gevind. Toe die 29-jarige man nie ’n permit of bewys vir die koop van die perlemoen kon toon nie, is hy vir die onwettige besit van perlemoen in hegtenis geneem,” het Booysen gesê.
DJ Crabtree (jr.) het Maandag in die Hermanus-landdroshof verskyn. Die uitslag van die hofverskyning was nie teen druktyd bekend nie.
Die polisie in Gansbaai het ook verskeie suksesse in die stryd teen perlemoenstropery gehad.
Luitenant-kolonel Winston Coetzee, Gansbaai-polisie se bevelvoerder, berig dat spesiale operasies in samewerking met die departement van bosbou, visserye en omgewingsake sowel as Overstrand- wetstoepassingseenheid langs die Gansbaai-kuslyn van stapel gestuur is.
Hierdie operasies, berig Coetzee, het gelei tot die inhegtenisneming van 13 verdagtes. “Daar is ook beslag gelê op 3 144 eenhede perlemoen en duiktoerusting met ’n beraamde waarde van R1,2 million sowel as drie voertuie wat gebruik was om die perlemoen mee te vervoer.”
Volgens Coetzee sal ’n aansoek gebring word om die voertuie aan die staat verbeurd te laat verklaar.
Die verdagtes het op aanklagte van die onwettige besit van perlemoen en duik in ’n verbode gebied in die Bredasdorp- en Hermanus-landdroshowe verskyn.
Coetzee het die beamptes vir hul toewyding tot die stryd teen stropery geloof. “Ons sal ons optredes om die bedreigde mariene-hulpbronne te beskerm, opskerp en sal die kuslyn aandagtig monitor vir enige onwettige aktiwiteite,” het hy bygevoeg.





