Haar passie vir liefdadigheid en haar persoonlike ervarings na haar baba vroeggebore is, het ’n jong ma gelei om betrokke te raak by Beanies4Babies.
René Kraft vertel: “Ons het verlede jaar na Caledon verhuis nadat my man, Christo, hier werk gekry het. Ons het ’n seuntjie, Joshua, wat vyf jaar oud is en as ’n tuisblymamma wil ek graag ’n verskil in die gemeenskap maak. Dis ook een van die redes waarom ek my dienste by Caledon-dieresorg aangebied het,” vertel sy.
Volgens haar het haar ouers haar geleer hoe om vir ander om te gee en is hulle nie net die mense na wie sy opkyk nie, maar ook haar steunpilare.
René glo daaraan om ander mense op te hef en kan dit nie hanteer as iemand ander mense wil laat sleg lyk om hulself goed te laat lyk nie.
“My motto in die lewe is om jouself te wees en nie ander mense laat sleg lyk om jouself goed te laat lyk nie. Dis verkeerd.
“Fokus op dit waarin jy goed is en gun elke mens ’n plekkie in die son,” het sy gesê.
Haar belangstelling in Beanies4Babies het gekom nadat haar seuntjie in 2017 vroeggebore is en maar net 1,6 kg geweeg het.
“Dit is waarom die projek my so na aan die hart lê en ek ander so graag wil help. Ek het een aand op die radio van die projek gehoor en weet waardeur baie van die ouers gaan. Ek het daar en dan besluit ek wil deel van die projek wees. Al was ek vrou alleen, wou ek by Beanies4Babies betrokke raak. Ek het skole genader, van winkel tot winkel gestap en vir wol gevra. Ek het vir myself ’n doelwit gestel en gesê ek gaan voor die einde van Maart 500 bolle wol hê,” vertel sy. Haar doel is om veral na die Caledon-hospitaal uit te reik. Mense wat belangstel, kan René by 072 168 0033 bel.





