David Maynier, Wes-Kaapse LUR van onderwys, sê: “Teen die tyd dat die 2025-toelatingsgleef om 23:59 Vrydag, 12 April gesluit het, het ons aansoeke ontvang vir ’n rekord 102 680 graad 1- en graad 8-leerders. Dit is ’n toename van 5 936 op verlede jaar se betydse aansoeke, waartydens aansoeke vir 96 744 graad 1- en graad 8-leerders ontvang is. Ons bedank die ouers wat moeite gedoen het om betyds aansoek te doen en ons te help beplan vir ’n plek vir hul kind in ’n skool volgende jaar.”
Alle aansoeke vir graad 1- en graad 8-leerders wat nie tussen 11 Maart en 12 April ingedien is nie, sal as ’n laat aansoek beskou word, sê Maynier. Hy voeg egter by dat ouers steeds laat aansoeke aanlyn kan indien tot 12 Mei, maar dat dit steeds as laat sal beskou word en geen voorkeur sal kry bo die aansoeke wat betyds ingedien is nie.
“Ouers van graad 1- en 8-leerders wat besluit om na die Wes-Kaap te verhuis nadat laat aanlyn aansoeke op 12 Mei 2024 gesluit het, of wat om enige ander rede nie voor hierdie datum aansoek gedoen het nie, sal so gou as moontlik hul distrikskantoor moet kontak vir bystand. Ons doen ’n beroep op ouers om nie tot die laaste minuut te wag om aansoek te doen nie. Die tydgleef vir graad R-aansoeke en oorplasingsversoeke vir graad 2 tot 7 en graad 9 tot 11 sal van 1 tot 16 Augustus 2024 strek.”
Maynier sê dit is belangrik dat ouer so gou as moontlik ’n skool aanbieding aanvaar, sodat die departement aanbiedinge beskikbaar kan stel aan ander leerders wat nie aanvaar is nie. “Indien ’n ouer nie hul keuse teen 14 Junie bevestig het nie, sal die stelsel outomaties hul topgekeurde skool bevestig wat ’n aanbod gemaak het. Alle ander aanbiedinge sal dan verwyder word sodat daardie plekke aan ander leerders gebied kan word. Ouers wat nie ’n aanbod op 30 Mei ontvang nie, moenie moedeloos wees nie: plekke maak altyd oop soos ouers hul finale keuses bevestig.”





