Ten spyte van ’n uitgebreide soektog is nog geen teken gekry van Nico du Preez wat naby Botrivier deur vloedwater meegesleur is nie.


Die soektog na ’n jong man wat vermis geraak het toe die motor waarin hy gereis het, deur die vloedwaters weggespoel is, duur voort.

Vermiste man

Ten spyte van ’n uitgebreide soektog is nog geen teken gekry van Nico du Preez wat naby Botrivier deur vloedwater meegesleur is nie.

Kol. Joe Hartnick, die Caledon-polisie se waarnemende bevelvoerder, sê die reën wat oor die naweek uitgesak en die riviervlak wéér laat styg het, belemmer die soektog.

Polisieduikers het Maandag die soektog na Nico du Preez (28) voortgesit en sal, volgens Hartnick, die rivier van die brug op die N2 buite Botrivier – waar Nico en sy broer Jaco in die water beland het – tot by die strandmeer in Kleinmond fynkam.

’n Uitgebreide soektog met behulp van vrywilligers, die polisie en ander owerhede se soekspanne het tot dusver nog niks opgelewer nie. ’n Helikopter is ook ingespan om met die soektog te help nadat geld deur middel van ’n BackaBuddy-veldtog ingesamel is.

“Sodra die watervlakke sak, sal plaaslike spanne weer die soektog langs die rivieroewer voortsit,” het Hartnick gesê.

Minstens nog twee ander mense – een naby Villiersdorp en nog een in die Vyeboom-gebied – is dood nadat hulle ook deur die vloedwaters meegesleur is.

Reinard Geldenhuys, die hoof van die Overberg-distriksmunisipaliteit se brand-en-reddingsdienste, het bevestig dat ’n lugmaghelikopter ook verlede week ingespan is om vier mense, wat weens die oorstromings buite Bredasdorp gestrand was en medikasie benodig het, te ontruim en na veiligheid te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article