Die winter het sy kloue behoorlik in die Overberg ingeslaan. Nie net het groot dele deurgeloop onder vloedskade nie, maar dit is ook ysig koud. Dis in tye soos dié dat ’n mens besef dat nie almal die luukse van ’n dak oor hulle koppe het nie, wat nog te sê van ’n warm kombers om ’n bietjie troos teen die koue te bied.
Caledon FM en CFM Wireless het juis om dié rede besluit om ’n komberinsamelingsveldtog te hou. In hulle buite-uitsendingbus het hulle oor ’n tydperk van vyf weke die Overberg platgery en in die 14 dorpe wat hulle besoek het mense aangemoedig om komberse te skenk.
Alicia Cloete van Caledon FM sê: “Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat ons ontvang het. Hierdie komberse, asook dié wat ons vir diere ontvang het, word weer in die betrokke gemeenskappe uitgedeel. Ons werk hoofsaaklik met welsynsorganisasies, kinderhuise asook dieresorgverenigings in hierdie dorpe.”
Uit die 874 komberse wat ingesamel is, het Kleinmond met 186 komberse die meeste ingesamel. Van die kleiner dorpe het Elim met 76 die grootste bydrae gelewer. Verskeie skole het ook hulle kant gebring. Laerskool Gansbaai het 55 ingesamel en Swartberg Sekondêr 45.
“Ons het ook hande gevat met die Solidariteitswinkels in Bredasdorp, Hermanus, Grabouw en Caledon. Hier is skenkings per gewig bepaal en Caledon se winkel het met 311 kg die meeste skenkings gekry,” sê Cloete. “Na die afgelope vloede het ons ’n oproep om hulp gekry vir Kays-woonwapark in die Strand waar die 200 inwoners so te sê alles verloor het, en ons het laas naweek daar ook komberse gaan aflewer.”
Op ’n vraag of hierdie ’n jaarlikse veldtog gaan wees, antwoord Cloete: “Ja, baie beslis. Ons het ook agtergekom dat daar ’n groot behoefte is vir handskoene, serpe en mussies, so ons gaan heel waarskynlik daarop konsentreer volgende jaar.”





