‘n Ligte vliegtuig het Woensdag (22 Februarie) konsternasie op die R43, tussen Pearley Beach en Gansbaai, veroorsaak toe dit op die pad neergestort het. Dié ongeluk het omstreeks 13:00 gebeur.
Volgens die Overstrand-munisipaliteit het die ongeluk naby die Duineveld-kroeg gebeur en was reddingsdienste vinnig op die toneel. “Niemand is beseer nie en sodra die beskermingsdienste die ongelukstoneel opgeruim het, sal ‘n stop-en-ry-diens daargestel word,” het Dean O’Niell, munisipale bestuurder, gesê.
Gerugte doen die ronde dat die vlieënier op pad na Die Dam was en ‘n noodlanding op die R43 moes doen. Die passasiers is na bewering met ‘n motor van die toneel af weggery.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.




