Die publiek word gewaarsku teen ’n toename in slenters wat blyk of dit van die Suid-Afrikaanse Poskantoor afkomstig is.


Die publiek word gewaarsku teen ’n toename in slenters wat blyk of dit van die Suid-Afrikaanse Poskantoor afkomstig is.

Die sakereddingspraktisyns van die SA Poskantoor het in ’n verklaring lede van die publiek gewaarsku oor die jongste slenters wat onder hul aandag gekom het.

Anoosh Rooplal en Juanito Damons, die gesamentlike sakereddingspraktisyns, sê hulle is bewus gemaak van misdadigers wat boodskappe vervals deur lede van die publiek te teiken om geld in die “poskantoor” se rekening te betaal vir aflewerings wat glo nie hul bestemmings kan bereik weens uitstaande geld nie.

Die boodskappe word per e-pos en SMS uitgestuur en blyk van die SA Poskantoor afkomstig te wees.

Een van die boodskappe lui: “As gevolg van ’n verkeerde adres op die goedere-etiket, kan ons posman nie jou bestelling aflewer nie. Dateer asseblief die afleweringsadres binne 24 uur op, anders sal ons die pakkie terugstuur, skakel: cutt.Oly/6wrgXUqQ.”

Die skakel is vals, sê die praktisyns.

Deur op die vals skakel te klik, lei dit die gebruiker na ’n betaalbladsy waar hulle gevra word om geld in ’n rekening te deponeer om ’n pakkie “vry te stel”.

In verskeie gevalle word ’n vorm ingesluit wat die bankkaartnommer en die CVV-nommer agterop versoek.

Die kombinasie van die kaartnommer en CVV-nommer word vereis vir aanlyn aankope.

“As jy hierdie besonderhede met die swendelaar deel, kan hulle dalk jou bankkaart gebruik in bedrieglike inkopies tot sy kredietlimiet,” lui die verklaring.

’n Ander opgemerkte verneukspul sê: “Aflewering in Suid-Afrika. Jou pakkie is in Suid-Afrika afgelewer, maar om dit te ontvang, moet afleweringskoste binne sewe dae betaal word. Indien dit nie betaal word nie, sal die pakkie teruggestuur word aan die persoon wat dit gestuur het. Betalingsbesonderhede [3.99 ZAR]”

Luidens die praktisyns sal die SA Poskantoor nooit:

. Vooraf invoerregte of uitklaringsheffings vra of om dit aanlyn te betaal (as daar doeanegelde betaalbaar is op ’n pakkie uit die buiteland, betaal die kliënt die koste wanneer hulle die pakkie by die poskantoor se toonbank afhaal);

. Jou bankrekeningnommer of CVV-nommers vra nie; en

. Klante vra om hul adresbesonderhede aanlyn op te dateer nie.

Die SA Poskantoor stuur aan kliënte ’n SMS of ’n geposte afhaalstrokie wanneer hulle ’n pakkie gereed het vir afhaal by ’n genoemde/spesifieke poskantoortak.

Hierdie pakkie moet so gou moontlik afgehaal word om seker te maak dit word nie aan die persoon wat dit gestuur het, terugbesorg nie.

. Indien jy enige inligting oor posmisdaad het, kontak asseblief die Poskantoor se tolvrye misdaadondersoeklyn by 0800 020 070.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article