Die Poskantoor het weer sy deure in Bredasdorp oopgemaak.


Menige bejaardes en Sassa-begunstigdes was opgewonde toe die burgemeester van Kaap-Agulhas-munisipaliteit, Paul Swart, op 5 April die Poskantoor se deure weer oopgemaak het.

Die Poskantoor, wat nou by die Thusong-saal is, gaan baie inwoners se lewe makliker maak. “Ons het altyd ons pakkies by die Poskantoor gaan haal en selfs geskenke vir ons kinders oorsee van die Poskantoor afgestuur, maar toe die diens nie meer beskikbaar is nie, was dit vir ons baie moeilik,” aldus ‘n bejaarde inwoner van Bredasdorp.

Saam met Swart was die munisipale bestuurder, Eben Phillips, en almal is dit eens dat dit ‘n heuglike dag vir die inwoners is. “Ons het vir langer as ‘n jaar gereelde vergaderings met die Poskantoor gehou om weer hul dienste hier te kom aanbied sodat dit makliker vir die inwoners kon wees,” het Swart vertel.

Volgens Martin Cornelius van die Poskantoor is hulle dankbaar dat die Poskantoor weer in Bredasdorp bedryf kan word en bedank hy hulle ook dat hulle plek vir die Poskantoor gemaak het.

Die dienste wat by die Poskantoor beskikbaar is, is die aansoek vir visvangpermitte, om pakkies af te haal en om Sassa-kaarte te hernu. Die Poskantoor is van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 16:00 oop. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article