“I don’t care if it takes six months or six years – I will succeed. I will achieve my dream.”
Hierdie onlangse Facebook-plasing beskryf die talentvolle atleet Adrian Swart (22) van Caledon se dryf- en wilskrag, deursettingsvermoë en toewyding om sy droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem, te verwesenlik.
Maar dit is ook van toepassing op Victor Hogan (34), tienmalige Suid-Afrikaanse en driemalige Afrika-kampioen in diskusgooi.
“Ek het ’n lang loopbaan gehad, maar dit was nie altyd maklik nie. Nou kan ek wys dat jy van ’n klein dorpie soos Kleinmond kan kom en dit tot by die grootste sportgebeurtenis kan maak as jy aanhou en glo dat dit moontlik is,” vertel Victor.
Trotse Kleinmonders het Sondag die kusdorpie se hoofweg vol gestaan om hul held te groet en voorspoed toe te wens terwyl hy die dorp onder begeleiding van verkeersbeamptes en die brandweer met loeiende sirenes op pad na die lughawe verlaat het.
Hierdie voorreg was Adrian, wat tans aan die Universiteit van Noordwes studeer, nie beskore nie aangesien hy reeds vroeër na Nederland vertrek het, waar hy vir ’n aantal wedlope in Europa voorberei het voordat hy Maandag (22 Julie) by die Suid-Afrikaanse span in Montpellier in Frankryk aangesluit het.
Adrian is lid van die nasionale aflosspan wat in Parys aan die 2024 Olimpiese Spele gaan deelneem.
Blink uit
Albei atlete, wat hul hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Overberg voltooi het, blink sedert laerskooldae in sport uit.
Adrian vertel: “Ek het van graad een by die Laerskool Overberg alles aangepak – van rugby, krieket en atletiek tot hokkie. Ek was baie goed in rugby – selfs beter as wat ek in daardie stadium in atletiek was.”
Hy het van gr. 4 tot gr. 7 Boland-kleure in hoogspring verwerf en dit het hom laat besef dat hy “ ’n ongelooflike talent vir atletiek van die Here ontvang het”.
Ander hoogtepunte in sy sportloopbaan sluit in ’n derde plek in die 200 m-hekkies-item by die SA Skole-atletiekbyeenkoms, toe hy een van sy sporthelde, Cornel Fredericks (ook ’n oud-Ovie) se rekord in die 200 m-hekkies en ook die SA rekord in verspring verbeter het; sy insluiting in die o.16-Boland-span vir die Grant Khomo-rugbytoernooi, en toe hy vanjaar teen sy rolmodel, Wayde van Niekerk, by die SA kampioenskap in Pietermaritzburg meegeding het.
In 2021 het hy die Groen-en-Goud vir die eerste keer oor sy kop getrek toe hy die land by die o.20-wêreldkampioenskap in Kenia verteenwoordig het. Hy was ook vroeër vanjaar lid van die nasionale span wat aan die CAA Afrika- senior kampioenskap in Kameroen deelgeneem het.
Die een ding wat al dié prestasies oortref, is sy insluiting in die Olimpiese span. “Dit is iets waarvan ek al droom sedert ek in graad vier was,” vertel hy.
Sy helde en grootste ondersteuners, sê Adrian, is sy pa, Riaan Swart, sy ma, Cathleen, en sy oudonderwyser Louis Kriel, wat hom deur ’n donker tyd gehelp het nadat sy pa in 2017 oorlede is en hom aangespoor het toe hy sy studies en sport gestaak het. Hy het ook sy borge – die Caledon- sosiale gholfklub, Theewaterskloof Caledon, Napa Civils (Preston Dramat), Rola Ford Caledon, Edith Wynne Trollip en haar groep, Nissan Holdings, Retha Louw en Edwin Marthinus – bedank.
rolmodelle vir die jeug
“As dit nie vir Meneer Kriel was nie, sou ek nie daai draai gemaak het en my drome nagejaag het nie. My pa was altyd my grootste ondersteuner en my ma was daar toe niemand in my geglo het nie en vandag sê sy haar seun gaan Olympics toe.”
Nes Adrian het Victor ook in verskeie sportsoorte, waaronder gewigstoot, uitgeblink.
“My belangstelling in atletiek het in die Laerskool Kleinmond begin, waar ek nou nog oefen. Ek het aan amper al die sportsoorte deelgeneem – rugby, waarin ek Boland-proewe gedoen en onttrek het; krieket, waarin ek krieketspeler van die jaar gewen het; en gholf en atletiek.”
Hy het per toeval sy niche gevind toe hy eendag saam met sy vriend Marco diskus gaan oefen het. “Ek het glad nie goed gegooi nie; die diskus het regs uitgevlieg en sommer hier voor my geval, maar tot amper in die helfte van die veld geskuur. Ek het uit die sirkel geloop en gesê dis nie vir my nie. Die juffrou het my teruggeroep en ek het weer probeer en oor die manne wat die diskusse moes terugbring, se koppe gegooi.”
Sedertdien het hy al aan ses wêreldkampioenskappe deelgeneem en talle rekords oortref.
Sy twee mentors was Kaai Preller, sy afrigter vir die eerste 12 jaar, en John Smit, wat hom aangemoedig het om nie tou op te gooi toe hy gedink het hy het die einde van sy loopbaan bereik nie.
“Ons het in 2020 met ’n vierjaarprogram begin en ek het verlede jaar twee keer my persoonlike beste van 66.14 m gegooi met talle oefen-gooie verder as dit, dus het dit my nuwe energie en dryfkrag gegee.
“As ek so baie in myself kan glo soos hy in my glo, was ek vandag dalk al wêreldkampioen! Ek is baie dankbaar vir hulle al twee se insette in my lewe.
“Ek en my afrigter het alles gedoen om te kwalifiseer en die beste van alles – hy is die span se gooi-afrigter vir die Olimpiese Spele. Ons is baie bly en baie opgewonde! Voorbereiding is alles, dus maak ons seker dat ek op ’n hoogtepunt is by die Spele waar dit saak maak om vér te gooi.”
Adrian se motto is: “Impossible is nothing” en hy droom daarvan om ’n verskil in ander jong mense se lewe te maak en in sy gemeenskap terug te ploeg.
“Ek wil nie onthou word as die eerste een van Caledon wat Olympics toe gegaan het nie. Ek wil onthou word as die jongman wat ’n verskil in ander jong mense se lewe gemaak het.”





