’n Middeljarige pastoor, bekend as die “trollieman van Hawston”, is 22 jaar tronkstraf opgelê nadat hy aan die verkragting van ’n tienermeisie skuldig bevind is.
Trane van blydskap en verligting het gevloei toe die slagoffer, wat ten tyde van die voorval slegs 15 jaar oud was, en haar familie die landdros se uitspraak verlede Dinsdag (10 September) in die Hermanus-landdroshof aangehoor het.
“Ons het drie jaar daarvoor gewag. My kind is deur ’n baie rowwe tyd en die trauma het haar vreesbevange gehad, maar sy is nou meer stabiel vandat hy gevonnis is. Die familie is tevrede met die straf en ons is dankbaar vir die staatsaan-klaer, Harold Engelbrecht, en sers. Martin Mtholo (van die Hermanus-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbesker-ming en seksuele misdrywe) sowel as die landdros wat gehelp het om toe te sien dat reg geskied,” het die slagoffer se pa gesê.
Hoewel Marshall Dicks (54) skuld ontken en aangevoer het dat die seks “konsensueel” was, is sy weergawe verwerp en die hof het bevind dat die slagoffer se getuienis geloofwaardig was.
Volgens hofdokumente het Dicks die slagoffer in Desember 2020 na sy huis genooi onder die voorwendsel dat hy vir haar skoolskoene het. Hy het haar toe volgens die dokumente oorval, haar hare getrek en haar mond toegedruk.
“Sy is bewusteloos gelaat. Toe sy haar bewussyn herwin, het sy ontdek sy is naak. Sy het haar klere aangetrek en huis toe gegaan,” lui die verklaring.
Hoewel Engelbrecht gevra het dat lewenslange tronkstraf opgelê word en aangevoer het swaarder strawwe moet opgelê word om vroue en kinders te beskerm, het die hof in ag geneem dat Dicks ’n eerste oortreder is.
Trauma, skok
Sy dogter is deur ’n baie moeilike tyd weens die trauma van die verkragting in Desember 2020, haar ma se dood in dieselfde maand en haar ouma se dood ’n maand later, het die slagoffer se pa gesê. En in Julie 2021 – maande ná die verkragting – is die skokkende ontdekking gemaak dat die tiener weens die verkragting swanger is.
“Sy het dit vir maande verberg, want hy het glo gedreig om haar dood te maak as sy sou praat. My vrou het met haar gepraat en sy het toe gesê sy is verkrag. Ek was woedend; ek wou hom vrekmaak,” het die pa openhartig aan Hermanus Times vertel.
Hy het egter gekalmeer, die saak by die polisie aangemeld en seker gemaak sy dogter kry berading.
Dicks is ná die babaseuntjie se geboorte in hegtenis geneem nadat DNS-toetse bewys het dat hy die pa is.
Sy dogter, vertel hy, was angsbevange en het nie kans gesien om die baba te hou nie. Familielede het die seuntjie egter ingeneem en maak hom groot.
“Ons het ten spyte van wat gebeur het baie lief geraak vir die kind,” sê hy. “Vandat hy (Dicks) in die gevangenis is, lyk dit my kind het meer rus vir haar siel, maar ek weet ek sal haar vir nog berading moet vat.
“Ek weet ook nie hoe ek gaan maak as my kleinkind eendag vra wie sy pa is nie.”
Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembisile Patekile, het die ondersoekspan vir hul uitstekende werk wat tot die skuldigbevinding op aanklag van verkragting en vonnis van 22 jaar gevangenisstraf gelei het, geprys.
Patekile het beklemtoon slagoffers moenie skaam wees om seksmisdade aan te meld nie en bygevoeg vroue se regte is ’n prioriteit.
“Jou reg as slagoffer sal altyd gerespekteer en beskerm word en slagoffers sal met die uiterste respek en waardigheid behandel word.
“ ’n Opgeleide polisiebeampte sal met die nodige sensitiwiteit ’n onderhoud met die slagoffer voer,” het hy bygevoeg.
Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het die swaar vonnis verwelkom en die hoop uitgespreek dat dit as afskrikmiddel sal dien.
“Die NVG is daartoe verbind om sake van geslagsgeweld (GBV) asook dié waar die mees weerloses in ons samelewing die slagoffers is, op te los,” het hy bygevoeg.





