Dit blyk parkering in Hermanus is ’n groot probleem. En as jy ’n gestremd-heid het, is die probleem nog erger.
“Wat my eintlik die meeste grief, is die feit dat mense te lui is om ander parkering te gebruik, dan parkeer hulle op parkeerplek vir gestremdes. Dit beteken ons het nie parkeerplek nie, en as ons op ’n gewone parkeerplek stop, is die ruimte te klein om ons rolstoel te kan gebruik,” het ’n briefskrywer gesê.
Nog ’n ongelukkige inwoner het in ’n brief aangedui dat daar nêrens in die dorp meer iets soos gratis parkering is nie. “Gratis parkering in die middedorp is onmoontlik om te vind. Parkeerplekke word opgeneem deur mense wat in die middedorp werk en dit noodsaak ons om ons inkopies by die Whale Coast Mall te doen,” het die inwoner se skrywe gelui.
Die skrywer is ook van mening motorwagte trek deesdae aan die kortste ent aangesien hulle nie meer betaal word nie omdat werkers die parkeerruimtes beset. “In die middedorp is daar ’n motorwag wat al 15 jaar by dieselfde parkeerruimte werk. Volgens hom gaan dit nou broekskeur aangesien al die parkeerplekke deur mense gebruik word wat in die middedorp werk en nie vrygewig is met fooitjies nie. Hierdie situasie is nie net frustrerend vir ons as kliënte nie, maar ook vir die winkels en restaurante in die omgewing wat besigheid verloor aangesien daar nie parkeerplek is nie.”
Nog ’n briefskrywer het melding gemaak dat die parkering vir mense met gestremdhede by die Whale Coast Mall – veral by Food Lover’s Market – nie rolstoelvriendelik is nie.
Volgens die bestuur van Whale Coast Mall is skriftelike terugvoering reeds aan die briefskrywer gegee ten opsigte van die stappe wat gevolg gaan word om die probleem op te los. “Ons is tans besig met beplanning om die gebied, wat spesifiek as probleem uitgewys is, só om te skep dat dit glad nie meer ’n parkeerruimte is nie, maar ’n paadjie wat dit dan makliker vir iemand in ’n rolstoel sal maak om die oprit tot op die plaveisel te bereik. Ons gaan dadelik aan die probleem aandag gee, maar ons wil dit ook uitlig dat ons gedurende die afgelope ses en ’n half jaar van die sentrum se bestaan nog geen ander klagte hieroor ontvang het nie en gee dus die nodige aandag omdat die klant spesifiek daarna verwys het,” het Maryke Potgieter, hoofbestuurder van die Whale Coast Mall, gesê.
Volgens Potgieter tree hulle ook streng op teen mense wat misbruik van parkering vir gestremdes maak. “Ons het reëls dat voertuie wat onwettig op die parkeerplekke vir gestremdes parkeer, se wiel geklamp word en dan moet ’n boete betaal word om die klamp te verwyder.
“Voor die bou van die sentrum se Fase 2 was daar reeds altesaam 73 parkeerruimtes vir gestremdes by die sentrum, met ekstra parkering bygevoeg met die uitbreiding en ook parkeerplekke wat spesifiek voorsiening maak vir senior burgers.
“Hoewel ons veiligheidspersoneel hul bes probeer om al hierdie gebiede te monitor, gebeur dit ongelukkig soms dat hulle iets mis aangesien hulle ook verantwoordelik is vir die veiligheid van die winkels en klante van die sentrum,” het Potgieter gesê.
Die Overstrand-munisipaliteit het op sy webwerf gemeld hoe jy vir ’n spesiale parkeerplakker vir gestremdes kan aansoek doen. “Inwoners kan by die Overstrand-verkeersafdeling aansoek doen vir ’n parkeringskyfie vir gestremdes. Alle korrespondensie moet aan die hoof van verkeer gerig word,” lui die inskrywing op die webwerf.
Volgens die webwerf maak die skyfie dit vir mense met gestremdhede moontlik om op enige parkeerplek vir gestremdes oor die Overberg heen te parkeer.
“Om vir die skyfie te kwalifiseer, moet ’n mediese dokter die vorm invul en die aard van die gestremdheid verduidelik. Aansoekers kan die vorms by die verkeersdepartement kry. Die spesiale skyfie is vir twee jaar geldig.”




