’n Paartjie van Swellendam het verlede week op aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery in die hof verskyn.
Die bedrag wat betrokke is, sê die Valke, beloop byna R14 miljoen.
Lt.kol. Siyabulela Vukubi, ’n woordvoerder vir die Valke, het bevestig dat Jacques Daniel Buys (47) en sy vrou, Annemie Buys (46), op 16 Julie deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige kommersiële misdrywe, wat in Bellville gebaseer is, in samewerking met speurders van die Swellendam-polisie in hegtenis geneem is.
Buys het volgens berigte as ’n senior bestuurder by die Sentraal-Suid Koöperasie in Swellendam gewerk. Volgens Vukubi het hy na bewering die bankrekeningnommer van ’n verskaffer op die onderneming se boekhoudingstelsel verander.
“Die beskuldigde en sy vrou het toe glo ’n bankrekening in hul negejarige dogter se naam geopen en die geld van die maatskappy in die dogter se rekening oorgeplaas,” sê Vukubi.
“Die Valke se ondersoek het onthul dat die geld uit dié rekening na verskeie ander bankrekeninge van die beskuldigdes oorgeplaas is.
“Inligting dui daarop dat verskeie oorplasings met ’n algehele waarde van R13 797 069,73 van 24 Desember 2010 tot 22 Julie 2022 gedoen is.”
Die beskuldigdes het op 16 Julie in die Swellendam-landdroshof verskyn. Die vrou is op R1 000 borgtog vrygelaat.
Volgens Vukubi is haar man op waarskuwing vrygelaat aangesien hy op ’n onverwante saak op borgtog uit is.
Die saak is tot 12 Augustus uitgestel hangende die uitslae van hul aansoek om regshulp.




