Die meeste mans kies ’n romantiese plek soos ’n mooi spierwit strand of ’n wynlandgoed om die jawoord te vra, maar dan is daar dié wat dit net effens anders doen.
Kobus Swart van Botrivier is een van dié wat dit anders gedoen het, toe hy onlangs in die Pick n Pay-supermark in Caledon vir Zesta Venter gevra het om met hom te trou.
Op ’n vraag van Hermanus Times aan Kobus oor hoekom juis in ’n supermark, antwoord hy: “Hoekom nie? Maak geskiedenis, maar dit was eintlik Zesta se ma, Susan Pero, se idee.”
Zesta noem sy het geen idee van dié planne gehad nie. Sy en haar ma was besig met inkopies by Pick n Pay toe sy na die ontvangstoonbank geroep is. “Ek het nogal geskrik en gewonder wat ek verkeerd gedoen het, maar toe spring Kobus skielik agter die toonbank uit, gee vir my ’n ring en vra my om te trou, en natuurlik het ek ja gesê,” sê Zesta.
Ma Susan sê as sy vir Zesta sou vra om mooi aan te trek, sou sy beslis snuf in die neus gekry het dat iets aan die broei is. Omdat Zesta in elk geval van plan was om inkopies te doen, het Susan vir Danie Gunther gevra of hulle dit in die winkel kan doen. “Alles het perfek uitgewerk, en ons sê vir Pick n Pay baie dankie dat hulle die voorstel aanvaar het,” sê Susan.
Om die geleentheid te vier, het Pick n Pay 18 bottels vonkelwyn aan Kobus en Zesta oorhandig.





