Die vriendelike polisiebeamptes wat die ambulansdienste bygestaan het.


Elke keer as dit reën verspoel van die paaie in Voorstekraal en die gate en slote word net al hoe groter en dieper. Klagtes oor die toestand van die paaie, en versoeke om dit te herstel, val blykbaar op dowe ore.

Laataand Vrydag 7 April het dít wat die inwoners so gevrees het, toe gebeur. ’n Ambulans wat uitgeroep is vir ’n noodgeval, het in die modderige gate en slote vasgeval. Daar was geen manier vir die ambulanspersoneel om die voertuig sonder hulp uit te kry nie, en dit terwyl daar in Greyton ook gewag is vir die ambulans om ’n sterfgeval te sertifiseer.

Konstabels Cohen van Wyk en Matthew Saulse en sersant Irvin Simmers van die Genadendal-polisiekantoor het deurgery om in gietende reën hulp te verleen. Sandsakke en klippe is gebruik en ’n plaaslike inwoner, Jason Damons, het grawe gebring en ook skouer aan die wiel gesit om die voertuig uit te kry.

Trevor Hermanus, voorsitter van die Overberg-polisieraad, noem aan Hermanus Times: “Die paaie in hierdie gebied is regtig in ’n haglike toestand met diep gate en slote. Ons sukkel nou al lank dat die paaie herstel word, maar daar word niks aan gedoen nie. Noodvoertuie kan nie by klagtes uitkom nie en ambulanse kan ook nie by mense uitkom om hulp te verleen nie. Plaaslike inwoners val ook dikwels vas in daardie slote en gate. Ons verlang dat die munisipaliteit dringend aandag moet gee aan hierdie gebied, spesifiek aan die paaie, sodat ons die nodige dienste kan verskaf in noodgevalle.”

Plaaslike inwoners het op verskeie sosiale media platforms hulle dank uitgespreek teenoor die drie lede van die Genadendal-polisiekantoor, wat in sulke weersomstandighede uitgekom het om te help, want sonder hulle hulp sou die ambulans nie uitgekom het nie.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit is vir kommentaar genader, maar teen druktyd is daar geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article