Owerhede het tydens ’n gesamentlike inligtinggedrewe-operasie op kokaïen met ’n geraamde straatwaarde van ongeveer R12 000 beslag gelê.
Raadslid Lindile Ntsabo, Overstrand se onderburgemeester en die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste, berig dat beamptes van Overstrand-wetstoepassingseenheid tydens die operasie in samewerking met Hermanus-polisie altesaam 13 verdagtes vir die besit van en handel in dwelms in hegtenis geneem het.
“Daar is op kokaïen met ’n geskatte waarde van R12 000, Mandrax-tablette en tik beslag gelê. Tydens die operasie het die beamptes ook inspeksies uitgevoer by verskeie gelisensieerde sowel as onwettige drankhandelaars waar daar op ongeveer 100 l bier beslag gelê is,” het hy bygevoeg.
Lede van OM wetstoepassing-eenheid se taakspan en reaksie-eenheid het in ’n aparte voorval tydens ’n gesamentlike operasie met die Kleinmond-polisie vir die besit van en handel in dwelms aangekeer.
Een persoon is ook in hegtenis geneem omdat hy in ’n mariene-bewaringsarea gehengel het, nog ’n ander is aangekeer vir die onwettige besit van perlemoen, alikreukel en kreef. ’n Derde verdagte is vir huisbraak en twee buitelanders, wie nie die nodige dokumentasie het om in die land te wees nie en in Oos-Londen gesoek word, is ook in hegtenis geneem.
Volgens Ntsabo het roetine-ondersoeke by padblokkades ook vrugte afgewerp. “Altesaam 193 lasbriewe vir uitstaande verkeersboetes sowel as 142 verkeersboetes is aangelê.
“Motoriste word aangemoedig om verantwoordelikheid vir hulself en hul passasiers se lewens te neem en te verseker dat hul voertuie padwaardig is. Onthou, dis ’n ernstige oortreding om onder die invloed van alkohol te bestuur,” het hy waarsku.
Die Wes-Kaapse LUR van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het hierdie suksesse geloof.
“Ek wil ons gemeenskappe aanmoedig om met die wetstoepassingseenhede, die polisie, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums saam te werk. Deur saam te werk sal ons ons doel om misdaad te bekamp en ons strate veiliger te maak, bereik,” het hy bygevoeg.





