Die 17 oudleerders van die Hoërskool Overberg wat die reünie bygewoon het. Foto: Mitzu Buys


Die Hoërskool Overberg se matriekklas van 1973 het die naweek van 24 en 25 Junie hul 50 ste reünie gevier.

Die reünie is Saterdagoggend by hul alma mater begin, waar die oudmatrikulante, wat daardie jaar se hoofseun, Chris Fick, en hoofmeisie, Jeanette Theron, ingesluit het, op ’n nostalgiese toer deur al hul ou klaskamers gegaan en waar Bettie Moore in die skoolsaal agter die klavier ingeskuif het om die skoollied te speel en te sing.

Sommige van die oudleerders het nog in die skoolbankies van daardie jare gepas en sommer lekker ou herinneringe opgeroep. Die gang met foto’s van oud-Ovies-presteerders was vir hulle ook baie interessant.

Baie van die oudleerders het ná die skoolbesoek vertel hoe pragtig en statig die skool nog is en gesê dit was vir hulle ’n voorreg om daar skool te gaan en alles ná 50 jaar weer te sien.

Ná die skoolbesoek is die 17 oudmatrikulante en hul gades, wat die reünie bygewoon het, na die Caledon Casino Hotel & Spa, waar ’n heerlike middagete genuttig is. ’n Baie oulike gebaar was die plekmatjie by elkeen se eetplek – ’n afdruk van die 1973-matriekklas se foto. Almal het oor middagete heerlik gesels en staaltjies van skooltyd vertel.

Mense het hoofsaaklik van die Caledon-omgewing gekom, maar ook van Kaapstad, Gansbaai en Hermanus. Sommige van die oudleerders woon nou in onder meer Amerika, Australië en Namibië en het die verrigtinge op hul WhatsApp-groep gevolg, waar foto’s en stories gedeel is. Die naweek is Sondag met ’n gesellige braai afgesluit.

Niel du Toit, een van die oudmatrikulante, sê die entoesiasme van die groep het vir hom uitgestaan en hulle beplan om hopelik oor vyf jaar weer ’n reünie te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article