Die luukse passasierskip SH Dianna, wat anker gegooi het in Walkerbaai. Foto:Cobus Germishuys


Die somer is hier en die feestyd klop aan die deur.

Besoekers van oor Suid-Afrika heen stroom gewoonlik na die Overstrand vir hul welverdiende Desembervakansie, maar Hermanus het vandag ’n besoeker gekry nadat die luukse passasierskip SH Dianna vanoggend (Dinsdag 12 November) in Walkerbaai anker gegooi het.

Nadat hulle in Hermanus was, het hulle hul vaart voortgesit en ook ’n draai in Gansbaai gaan maak.

Volgens een van die inwoners is hulle nie baie gelukkig oor die besoek van die luukse vaartuig nie aangesien daar nog baie walvisse in die omtrek is. “Die walvisse is tydens dié tyd van die jaar ons gaste en ons moet hulle respekteer,” het sy verduidelik.

Volgens haar verstaan sy dat die passasierskepe geld in die dorpe kan instoot, “maar watter invloed het dit op die seelewe?” wou sy weet.

Volgens die munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, Dean O’Neill, is vakansies op luukse passasierskepe een van die snelgroeiendste aktiwiteite in die toerismebedryf. “Die Kaapse kus is definitief ’n gewilde bestemming vir die passasiers en dis waarom hulle hiernatoe kom,” vertel hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article