Overstrand maan inwoners om water spaarsamig te gebruik te midde van dalende dam en reservoirvlakke

Foto ter illustrasie. Foto: AFP

Die Overstrand-munisipaliteit doen ’n ernstige beroep op inwoners om hul waterverbruik te verminder te midde van dalende dam- en reservoirvlakke, en ’n skerp styging in verbruik oor die komende somermaande.

Die munisipaliteit het Woensdag (10 Desember) gewaarsku dat volgehoue hoë verbruik die moontlikheid van waterbeperkings al hoe groter maak.

Volgens die munisipaliteit het waterverbruik in Hermanus verlede maand met meer as 16% gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024.

’n Soortgelyke tendens is ook in die meeste ander dorpe in die Overstrand opgemerk, iets wat groot kommer wek terwyl die streek die warmste en droogste deel van die somer nader.

Volgens die munisipaliteit het die gemiddelde daaglikse gebruik vir die afgelope week in Hermanus alleen 17.291 miljoen liter per dag bereik.

“Inwoners word daarom versoek om water spaarsamig en verantwoordelik te gebruik en bewus te bly van die druk op die waterbronne.

“Die munisipaliteit vra ook dat inwoners hul familie en vriende wat tans kuier, inlig oor die hoë waterverbruik en die noodsaaklikheid om watergebruik te beperk.

“Kom ons werk saam om minder water te gebruik sodat ons damme en reservoirs vir langer op gesonde vlakke kan hou,” sê Dean O’Neill, Overstrand se munisipale bestuurder, in die verklaring.

Die munisipaliteit herinner inwoners daaraan dat die besproeiing van tuine daagliks tussen 09:00 en 17:00 nie toegelaat word nie, om onnodige waterverlies deur verdamping te voorkom.

LEES OOK: Damvlakke in die Drakenstein aan die daal, waarsku munisipaliteit

Ten spyte van die toenemende verbruik staan die damme wat die Overstrand van water voorsien, steeds op redelike gesonde vlakke, hoewel dit laer is as verlede jaar.

Die jongste syfers toon die volgende vlakke aan die einde van verlede maand:

De Bos, wat Hermanus van Benguela Cove en Fisherhaven tot Voelklip bedien, staan op 90.6%, vergeleke met 100% einde November 2024.

Buffelsrivier, wat Rooi Els, Pringlebaai en Bettysbaai voorsien, staan op 88.4%, teenoor 100% verlede jaar.

Kraaibosch, wat die groter Gansbaai gebied bedien, staan op 97.7%, effens laer as die 102%wat einde November 2024 aangeteken is.

Pearly Beach-dam staan op 86%, in vergelyking met 96% verlede jaar.

Die Theewaterskloof-dam het aan die begin van Desember op 74.2% gestaan teenoor 95.6% in dieselfde tydperk verlede jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article