Die brandweerbeamptes het die Overstrand se naam hoog gehou tydens ‘n kompetisie.


Brandweerbeamptes moet van die fikstes wees en dis ook wat Overstrand-brandweerbeamptes bewys het toe hulle onlangs tweede plek by die Internasionale Brandweerdag se spanuitdaging behaal het. 

Die span het uit Cecil
Abrahamse, Marcello Joemat, Jason Griffiths en Bradley Grootboom bestaan. Die kompetisie is op 4 Mei in Stellenbosch gehou en 10 spanne het meegeding. Die span van Sea Harvest het die eerste plek verower en Hessequa was derde terwyl die brandweerbeamptes van die Overstrand net-net tweede gekom het. 

“Die hoofdoel van dag is nie net om die doeltreffendheid van die brandweerdienste te beklemtoon nie, maar ook ‘n bewys dat brandweerbeamptes fiks en vaardig is om hul doel te dien. Verder is dit ook ‘n herdenkingsdag vir al die brandweerbeamptes wat hul lewe tydens hul diens verloor het,” het Dean O’Neill munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit vertel.

Die brandweerbeamptes het in hul volledige uniforms deelgeneem en byvoorbeeld bande omgerol, brandblussers rondgedra, ‘n hindernisbaan voltooi en torings geklim.

“Overstrand-inwoners kan rustig wees, ons het ‘n bekwame klomp brandweerbeamptes wat ons beskerm en ons kan weet dat die wat ons kom help van die bestes is. Baie geluk,” het dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article