Stem vir Benjamin Dwayi van Safcol RFC vir die voorspeler van die toernooi.


Al het albei Overberg-spanne – Safcol en Caledon – dié naweek kleigetrap, is hulle gelukkig reeds deur na die halfeindstryd van die Boland-Top12.

Safcol se wedstryd Saterdag teen Robertson op Robertson se tuisveld is gekenmerk deur swak dissipline van die manne van Grabouw. In die eerste vyf minute van die wedstryd het Saffies nie net drie strafskoppe afgestaan nie, maar die flank Cameron Julies het ’n speler van Robertson hoog gevat en ’n geelkaart gekry.

Robertson het ook nie net die eerste punte op die telbord aangeteken nie, maar ook vir Safcol voor in die skrums gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Nadat Safcol sy eerste strafskop in die 13de minuut gekry het, het hy besluit om kantlyn toe te skop, maar Robertson se verdediging was te sterk en Saffies kon net nie oor die doellyn nie. Ná ’n goeie agterlynbeweging het Safcol se Wayden Nel die eerste drie vir sy span gaan druk; ongelukkig kon hulle dit nie verdoel nie. Robertson het in die 17de minuut weer agter die pale gaan kuier.

Nadat Safcol weer ’n strafskop gekry het en die kaptein Benjamin Dwayi amper agter die pale gekuier het, het Jeandre Lukas in die 27ste minuut ’n drie gaan druk, wat verdoel is.

Net voor halftyd het Robertson weer ’n strafskop gekry, wat hy deur die pale geklits het en die rustydtelling was 20-12 vir Robertson.

Daar is duidelik hard met die span van Grabouw tydens rustyd in die kleedkamers gepraat en Safcol het in die tweede helfte beter geskrum.

Robertson sit sy goeie spelpeil wat hy in die eerste helfte gehandhaaf het voort en gaan druk tien minute in die tweede helfte weer ’n drie, wat verdoel is. Saffies bly op die agtervoet en met die telling 30-15 vir Robertson moes Saffies diep gaan delf om in die wedstryd te bly. Safcol bring sy plaasvervangers op en Cholan November gaan kuier agter die pale, wat Nel verdoel. Safcol speel die laaste 10 minute met nuwe durf en vyf minute voor die eindfluitjie blaas, druk Jeandre Lukas sy tweede drie, wat Nel ook verdoel.

Die slot Elzane Philander van Safcol is as die speler van die wedstryd aangewys. Saffies verloor 30-29.

Voordat Saffies sy halfeindwedstryd teen die span van Villagers van Worcester gaan speel, moet hulle aan hul dissipline en skrums werk. . Abbotsdale het Saterdag ook die manne van Caledon ’n les geleer en die Canola Boys 45-29 geklop. Saterdag speel Caledon teen Robertson, wat ook ’n baie harde wedstryd gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article