Overbergse sake-ondernemings het weer eens in die jaarlikse Kfm 94.5 Best of the Cape-kompetisie uitgeblink.
Altesaam vyf ondernemings vanuit die streek is as wenners in hul onderskeie kategorieë van dié gesogte kompetisie aangewys. Die Grabouw-Elgin-gebied het dié jaar stof in ander dorpe se oë geskop met altesaam drie van die wenners wat in hierdie gebied geleë is.
Elgin Railway Market is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste mark aangewys terwyl Peregrine-plaasstal as die wenner in die beste plaasstal-afdeling aangewys is. Houw Hoek-plaasstal, wat in 2021 en 2022 as die wenner in die beste plaasstal-kategorie aangewys is, was hierdie jaar slegs ’n finalis in die kategorie.
Old Mac Daddy, wat vir gaste unieke verblyf-opsies insluitend luukse tentkampe en woonwaens met verskillende temas sowel as selfsorg-verblyf bied, het hul teenstanders in die kompetisie uitgestof om as die beste hotel aangewys te word.
Wat die beste bakkery betref, is Ou Meul Bakkery en Kafee voor in die koor. Ou Meul het sy ontstaan in Riviersonderend gehad, maar het intussen uitgebrei en het ook nou takke in Stanford, by Salandra in Botrivier, Du Toitskloof en talle ander dorpe.
Joubertsdal-landgoed in Swellendam is as die wenner in die afdeling beste trou-venue aangewys.
Daar was ’n gejuig en gejubel toe Roger Orpen die nuus ontvang het dat Elgin Railway Market weer eens as die wenner in die kategorie beste mark aangewys is. In ’n video wat op Elgin Railway Market se Facebook-blad gedeel is, kan gehoor word hoe hy opmerk dat hulle dit drie in ’n ry moet maak.
“Ons kan nie gelukkiger wees nie en wil baie dankie sê aan elkeen wat gestem het en vir jul ondersteuning,” lui die inskrywing.
Ook Peregrine-plaastal het ’n video geplaas wat wys hoe opgewonde die personeel oor die goeie nuus is. Die onderneming het al sy ondersteuners bedank sonder wie se steun hulle dit nie sou kon doen nie.
Lees ’n meer volledige berig volgende week in die Hermanus Times.





