Om deel te wees van ’n sestigste reünie is nie net ’n groot prestasie nie, maar ook ’n groot eer.

Die Hoërskool Overberg se klas van 1963 het ’n reünie op 20 September gehou en dit was ’n groot en belangrike dag in die lewe van 12 oudleerders van die skool.
Uit ’n klas van 31 is slegs ses oorlede, maar slegs 12 van die oorblywende 25 kon die dag bywoon.
Die oudleerders het van vroeg die oggend in die Altiora-saal op die skoolterrein tot laat in die middag gekuier, gesels en geëet. Stories en foto’s is uitgeruil, hulle het baie gelag en ook hier en daar ’n traan weggepink.
’n Kranslegging is by die skool se hoeksteen gehou om die ses leerders asook familie wat nie meer daar is nie, te eer. Die hoofseun en -meisie van 1963 het saam met hul eweknieë van 2023 se matriekklas ’n groot fynbos-krans teen die hoeksteen geplaas.
Ná die seremonie het almal saam aan ’n heerlike middagete gesmul, wat deur die personeel van die skool voorberei is. Almal was dit eens dat dit ’n voorreg was om ná 60 jaar saam te kuier.




