’n Groep van Swartberg Sekondêr se matriekklas van 1984 het presies 40 jaar nadat hulle hul matriekafskeid gehou het hul heel eerste reünie Saterdag 26 Oktober bygewoon.
Die 99 leerders van die klas van 1984 het akademies uitstekend gevaar met ’n 100%-slaagsyfer – iets wat voor dit in die jare sestig laas gebeur het.
Die 23 oudleerders wat die reünie bygewoon het, het van onder meer Hermanus, Hawston, Botrivier, Tesselaarsdal, Kleinmond, Villiersdorp en Riviersonderend gekom, met een oudleerder wat al die pad van Laingsburg af gekom het om die reünie by te woon. Baie oudleerders kon ongelukkig nie die verrigtinge bywoon nie omdat hulle in ander dele van die land en selfs oorsee woon.
Die verrigtinge het op ’n vrolike en baie oorspronklike noot begin met reüniegangers wat maskers gedra het en onder mekaar moes raai wie is wie.
Die groep is met hul spesiale reünie-T-hemde aan dorp toe om rooi heliumballonne by ’n plaaslike winkel te koop. Dié ballonne was ter nagedagtenis van leerders en onderwysers wat reeds oorlede is.
Elkeen het ’n beurt gekry om hulself [weer] aan hul maats bekend te stel en te vertel hoe hul lewe tot dusver verloop het. ’n Kers ter nagedagtenis aan dié wat nie meer hier is nie, is aangesteek en Marthinus Baron het die gedig “The Empty Chair” voorgelees.
Ná ’n heerlike middagete was daar tyd vir lekker gesels en verskeie ander aktiwiteite. Toe dit tyd word om te groet, was almal dit eens dat hulle gewis nie weer so lank moet wag vir ’n volgende reünie nie.





